Warm onder die kraag: Ontstoke Bottas sweet glo 3 kg weg

Valtteri Bottas. (Andrew Boyers/AP)

’n Mens twyfel gereeld oor die betroubaarheid van die poniepers, maar volgens die Britse The Sun het Valtteri Bottas drie kilogram by die afgelope Spaanse Grand Prix in Barcelona weggesweet.

Die Mercedes-renjaer het die wedren in die derde plek afgesluit, terwyl sy spanmaat Lewis Hamilton die eerste plek beklink het.

Dit was die Brit se 88ste loopbaansege en hy is nou slegs drie oorwinnings duskant Michael Schumacher se rekordgetal van 91.

Mercedes het egter in Junie aangekondig dat hulle in swart renmotors vir die komende F1-seisoen sal jaag in ’n poging om rassisme te beveg, terwyl daar ook gepoog word om ’n meer diverse span op die been te bring.

Hamilton, die eerste swart F1-kampioen, sal saam met Bottas in swart renpakke jaag; die Brit het ook met die ontwerp van die nuwe Mercedes gehelp.

Maar ná Sondag se wedren is Bottas taamlik warm onder die kraag vir die swart renpakke.

Lewis Hamilton en Bottas. (Bryn Lennon?AP).

“Hierdie swart renpakke is deksels warm!” het hy glo vir sy span oor die radio tydens die wedren laat weet.

“Dit is normaalweg baie warm in die motor, maar vanjaar is dit erger as ooit vantevore,” het die Fin gesê.

Volgens Bottas dra die swart renpakke ongetwyfeld tot die dilemma by.

“Ek het drie kilogram gedurende die wedren verloor en dit kan bepaald ’n invloed op jou vertoning hê. Dit is ’n feit dat swart baie warmer is, veral in direkte sonlig.”

“Ek is een van die fiksste ouens hier en ek is gewoond aan baie dinge. Dit is egter nooit gemaklik nie, maar daar is dinge wat ons kan verbeter.”

Bottas (89) is tans 43 punte agter Hamilton (132) op die individuele punteleer.

“Die punteverskil is net te groot en ek twyfel of ek Lewis kan inhaal.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Tommie

Hy moet maar lekker sweet