Wawrinka sê ook Nadal kan Wimbledon wen

Rafael Nadal beweeg flink in sy wedstryd teen Stan Wawrinka. Foto: Adrian Dennis.

Wimbledon se tennisringkoppe voorspel dat Rafael Nadal teen Felix Auger-Aliassime in die kwarteindstryd van die grasbaantoernooi sal speel, waarna Novak Djokovic waarskynlik vir hom in die eindstryd kan wag.

En ná vandeesweek se opwarmingswedstryd meen Stan Wawrinka ook dat die Spanjaard met die louere op Wimbledon kan wegstap.

“Rafa was maar Rafa,” het die Switserse speler geskerts nadat Nadal hom met 6-2 en 6-3 geklop het.

“Ek weet nie hoe hy voel nie, maar hy het soos altyd op die baan beweeg. Ek dink elke keer wanneer Rafael Nadal in ’n Grand Slam speel, is hy een van die gunstelinge – of selfs dié gunsteling – om die toernooi te wen.”

In ’n buitengewone poging om die spelers meer gewoond aan die toestande te maak, het organiseerders toestemming gegee dat daar op Wimbledon se hoofbane geoefen mag word.

Nadal en Italië se Matteo Berrettini het saam op die ikoniese Centre Court geoefen.

Intussen is Novak Djokovic ook oorgehaal om die toernooi vir die vierde agtereenvolgende keer te wen. Die topgekeurde speler het al 79 van sy 89 wedstryde op Wimbledon gewen.

Dan sal Serena Williams haar Wimbledon-veldtog teen Frankryk se Harmony Tan begin.

Die 40-jarige Williams, wat 23 Grand Slam-titels agter haar naam het, was vir ’n lang ruk buite aksie nadat sy verlede jaar ’n besering in die einste toernooi opgedoen het.

Sy is tans 1 204de op die wêreldranglys en haar voorbereidingswerk vir die ikoniese grasbaantoernooi het ook ’n knou gekry. Haar dubbelspelspanmaat, Ons Jabeur, het ’n kniebesering opgedoen en moes noodgedwonge aan die Eastbourne-toernooi onttrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.