Wayne Ferreira neem Harris onder sy vlerk

Lloyd Harris en Wayne Ferreira. Foto: atptour.com/ANA

Die 21-jarige Lloyd Harris het die oog gevang van Wayne Ferreira, een van Suid-Afrika se voorste tennisspelers.

Ferreira het in 2005 uit professionele tennis getree. “Dit is altyd belangrik om iemand te hê wat goed doen om die jonger generasies te inspireer,” het Ferreira gesê. “Lloyd is baie, baie goed. Hy is ʼn wonderlike kind en goeie tennisspeler.”

Harris, Suid-Afrika se jongste tennissensasie, het twee weke gelede vir die eerste keer die wêreldranglys betree in die 98ste posisie. Harris en Kevin Anderson (5) is die enigste Suid-Afrikaners op die ranglys.

Ferreira gaan intussen vir ʼn paar weke ʼn ogie hou oor Harris wat tans in die Delray Beach Ope in aksie is.

Harris is vol lof vir Ferreira. “Hy is ongelooflik. Hy het al soveel in tennis bereik in al die toernooie wat hy gewen het. Hy is een van die beste Suid-Afrikaanse spelers en ek leer reeds baie by hom.”

Harris, wat van Kaapstad kom, fokus maar eers die afgelope ses jaar heeltyds op tennis. Hy was dié tyd verlede jaar no. 297 op die wêreldranglys, maar het intussen drie oorwinnings in die Challenger-toernooie behaal.

“Hy is eintlik nog redelik jonk in tennisterme. Hy het nou net eers begin en ek sien ʼn lang toekoms wat vir hom voorlê,” het Ferreira gesê.

“Hy is sterk, het sterk bene en ʼn lenige lyf. Hy het ʼn goeie tennislyf wat ek dink hom fisiek ver kan dra. Hy het baie krag in sy spel en baie variasie so ek dink hy het die vermoë om vir baie lank suksesvol te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.