Weber jag Midmar, Olimpiese glorie

Michelle Weber in aksie. Foto: ANA.

Die wêreld se grootste oopwater-swemkompetisie, die Midmar-myl, is om die draai en een van die gunstelinge om met die louere in Howick weg te stap, is Michelle Weber.

“Ek is mal oor die Midmar. Ek het in Umhlanga grootgeword en ons gesin was jaarliks daar. Ons het sommer net lekker gekamp en gebraai; en ek vermoed dít is die rede waarom dit so ’n spesiale plek in my hart het,” het Weber gesê.

Die 23-jarige Weber neem al sedert sy 11 jaar oud is aan dié unieke swembyeenkoms deel, terwyl sy ook die kampioen in 2016 was.

Swemmers spring weg by die Midmar Myl wat verlede jaar vir die 46ste keer aangebied is. Foto: Facebook via aQuellé Midmar Mile

Maar haar hoofdoelwit vir die nuwe jaar is die Olimpiese Spele in Tokio, waar sy vir die 10 km-oopwateritem wil kwalifiseer.

Hoewel die Midmar dan nie só ’n groot uitdaging is nie, bied dit vir Weber die perfekte geleentheid om haarself teen ander top-swemmers te toets en haar voorbereidingswerk ’n ekstra hupstoot te gee.

“Dit het goed met my voorbereiding gegaan. Tog dink ek dat die mans en die vroue se tye vinnig gaan wees, juis omdat dit ’n Olimpiese jaar is.”

“Ek is mal daaroor om die Midmar-myl te swem; ek dink dit is ook ‘cool’ vir die Olimpiese Spele. Eerstens omdat ek al my vriende kan sien en sommer net ’n lekker blaaskans kan neem, maar ook omdat dit perfek in my oefenskedule vir die Spele pas; net om te sien hoe vinnig ek is en hoe ek in die water voel.”

Boonop is die nasionale kampioenskap oor ’n maand. Indien jy dáár onder die eerste twee swemmers eindig, is dit beslis ’n stap in die regte rigting om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.

  • Die Midmar-myl is op 8 en 9 Februarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae