Wêreld se beste branderplankryers by Jeffreysbaai

Bianca Buitendag. Foto: WSL/Sloane.

Die wêreld se voorste branderplankryers het vandag deur Kaapse waters geklief toe die Corona Open J-Bay in Jeffreysbaai begin het.

Die toernooi is die sesde byeenkoms in die Wêreldbranderplankry-kampioenskapstoer en Suid-Afrika se eie Jordy Smith sal amok wil maak in sy geboorteland se waters.

Smith is tans vierde op die punteleer, maar John-John Florence (die huidige voorloper) se kniebesering kan die deur vir ’n ranglyssprong of twee oopmaak.

Die 31-jarige Suid-Afrikaner het reeds twee keer vantevore, in 2010 en 2011, die byeenkoms gewen en weet dus wat dit verg om in J-Bay te seëvier. “Al wat ons nodig het, is ’n paar lekker branders om goeie tellings te kry,” het Smith gesê.

“Van al die plekke ter wêreld, is Jeffreysbaai die plek waar ek die meeste op my gemak is wanneer ek kompeteer. Ek is dol daaroor om tyd te spandeer saam met mensie wie ek ken en dit voel regtig asof ek weer ’n jong kind is! Die vuur en passie is beslis daar om te presteer.

“Wat branderplankry betref, is daar geen ander plek soos Jeffreysbaai nie; geen ander golf sal vir jou dieselfde spoed gee nie. Ek is rêrig trots om te sê ek is ’n Suid-Afrikaner.”

Nóg ’n Suid-Afrikaner, Bianca Buitendag, het verlede jaar as ’n buiteperd – en ten spyte van ’n rugbesering – sterk by die Corona Ope vertoon. Sy het egter volkome van die besering herstel en is vanjaar een van die byeenkoms se gunstelinge.

  • Branderplankryers sal tot 22 Julie in aksie wees.
  • Die geleentheid word regstreeks op WorldSurfLeague.com uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.