Wêreldrekord en Paralimpiese goud vir merkwaardige Jaco

Jaco van Gass (regs) saam met Fin Graham (silwermedaljewenner). Foto: Twitter.

Almal van ons skryf daagliks aan ons lewenstorie. Jaco van Gass se verhaal is net gelaai met aksiebelaaide hoofstukke propvol opwinding, avontuur, durf, deursettingsvermoë en nou ook ’n wêreldrekord en ’n Paralimpiese goue medalje.

Die 35-jarige fietsryer het vandag in Tokio éérs die wêreldrekord in die 3 000 m- individuele resies (C3-kategorie) se kwalifiserende ronde verbeter, waarna hy die goue medalje in die eindronde ingeoes het.

Sy wêreldrekordtyd van 3:17:593 minute het Alexey Obydennov se vorige rekord van 3:26:691 minute met meer as nege sekondes verpletter. Die Rus het sy tyd in 2014 opgestel.

Van Gass is in Middelburg (Mpumalanga) gebore, maar hy het op 20-jarige ouderdom na Europa verhuis met die droom om lid van die Britse weermag te word; ’n rukkie later is hy in hul valskermregiment opgeneem.

Van Gass maak gereeld vir sy Noordpoolse avontuur. Foto: David Cheskin/AFP.

In 2009 is hy ernstig in Afghanistan gewond toe hy in ’n skermutseling deur ’n vuurpylaangedrewe granaat (RPG) getref is. Benewens die skrapnelwonde, ’n gebreekte tibia en interne beserings het hy ook sy linkerarm verloor en een van sy longe het platgeval.

Onderkry is egter min en ná 11 operasies het Van Gass verskeie marathons (waaronder die New York-marathon) suksesvol aangepak, in ’n bobaas-skiër ontluik én as lid van ’n span gewonde Britse soldate ’n avontuur na die Noordpool aangepak.

Die span moes toe uiterste weersomstandighede aandurf – die kwik het soms tot -50 °C gedaal – terwyl elke lid ook ’n slee van 100 kg moes saamsleep. Prins Harry het hom ook later by die ekspedisie aangesluit.

Dan was daar ander bergklim-avonture (onder meer ’n Everest-poging) en moordende uithouritte op sy fiets in Chili.

Indien alles volgens plan verloop, kan Van Gass nog vier verdere medaljes in Tokio verower.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

B-Man ·

Daar is darem goeie nuus vanuit HTS Witbank ook. Dankie, Jaco!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.