Wie gaan in Vettel se Ferrari-sitplek klim?

Sebastian Vettel saam met Lewis Hamilton. (AP Photo/Rick Rycroft).

Sebastian Vettel en Ferrari het hierdie week in ’n gesamentlike verklaring aangekondig dat hul paadjies aan die einde van die seisoen sal skei.

Ná vyf jaar het Vettel 14 van sy 102 wedrenne in die rooi van Ferrari gewen. Hy was egter die derde suksesvolste jaer in Ferrari-geskiedenis, terwyl hy die meeste punte vir die span aangeteken het.

“Dit was nie ’n maklike besluit nie, veral as jy na Sebastian se waarde as bestuurder en mens kyk. Daar is geen spesifieke rede wat tot die ooreenkoms gelei het nie, behalwe dat die tyd reg was vir ons paaie om te skei,” het die Ferrari-baas, Mattia Binotto, gesê.

Sedertdien gons die internet oor wie volgende in sy sitplek kan klim. Hier is van die gunstelinge:

  • Carlos Sainz

As mens nou ’n weddenskap om die braaivleisvuur oor dié onderwerp moes aangaan, sou jou meer konserwatiewe vriende hul geld op Sainz gemors het.

Carlos Sainz. (AP Photo/Rick Rycroft)

Die 25-jarige Spanjaard was vuurwarm vir McLaren en het as individu die 2019-seisoen in die sesde plek afgesluit. Boonop is hy volgens die Red Bull-jaer, Max Verstappen, die gunsteling om vir Vettel in die Ferrari-kleure te vervang.

Hy het egter al vantevore gesê dat hy heel gelukkig by McLaren is.

“Ek voel baie betrokke by hierdie mediumtermyn- tot langtermynprojek by McLaren en dit is al waarop ek tans kan konsentreer.”

  • Daniel Ricciardo

Die 30-jarige Australiër is blitsig om ’n F1-baan, terwyl sy naam boonop lekker Italiaans klink. Hy het selfs begin bloos toe joernaliste hom oor ’n moontlike Ferrari-skuif gepols het.

Tog het die veteraan-joernalis Leo Turrini gespekuleer dat Ricciardo vir Sainz by McLaren sal vervang.

“Sainz is ’n bestendige bestuurder, maar ná ’n paar seisoene het hy nie juis die wêreld aan die brand gery nie. Mens moet egter in ag neem dat hy nie die beste motors tot sy beskikking gehad het nie. Ricciardo? Dit smaak my hy het reeds ’n kontrak met McLaren onderteken,” het hy gesê.

  • Lewis Hamilton

Sedert daar verlede jaar berig is dat Hamilton met Ferrari-base onderhandel het, het die F1-wêreld gegons oor die moontlikheid dat die Brit sy loopbaan by Ferrari kan afsluit.

Nadat Toto Wolff egter onlangs R870 miljoen aan ’n nuwe enjin vir Mercedes bestee het, sal dié skuif waarskynlik nie ’n werklikheid word nie.

Maar ’n Hamilton-Leclerc-kombinasie sal beslis vir ’n watertand-spyskaart sorg; al bly dit net ’n droom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.