Wie het die beste statistieke: Novak, Rafa of Roger?

Novak Djokovic, Rafael Nadal en Roger Federer. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP.

Ná Rafael Nadal se heldedade in Melbourne is hy nou die manspeler met die meeste Grand Slam-titels (21) agter sy naam.

Maar in die era van Nadal, Roger Federer en Novak Djokovic sal daar altyd ’n debat wees oor wie die titel as die beste speler ooit verdien.

In die een hoek het jy vir Djokovic, ’n speler wat nooit so gewild soos die ander twee sal wees nie, maar wat steeds met ’n hele paar verstommende vertonings vorendag gekom het.

“Novak is ’n unieke speler. Ek dink dit is tyd dat mense begin besef hoe goed hy is,” het die Belgiese Grand Slam-wenner, Justine Henin, gesê.

“Jy kan van hom hou of nie – ek weet daar is baie mense wat nie veel ooghare vir hom het nie – maar wat hy op die tennisbaan vermag, is doodeenvoudig verstommend.”

Dan het Martina Navratilova (wenner van 18 Grand Slam-titels) al vantevore Nadal vir sy toewyding geloof.

“Mense gaan eendag boeke oor jou loopbaan skryf om vir ander te probeer aanspoor om soos jy te wees. Ek het oneindige respek vir jou en ek is mal daaroor om jou te sien speel. Trouens, ek wens dat jy nooit sal uittree nie, want dan kan jy dalk 30 titels op Roland Garros wen,” het die tennislegende van Nadal gesê.

Laastens kry jy vir Federer – ’n speler wat as die “Lionel Messi” van tennis beskryf word.

“Dit gaan nie vir my oor ’n spul Grand Slam-titels nie – wat my betref, het Roger geen gelyke nie. Hy is onvervangbaar, veral wat die estetiese waarde van sy spel betref. Dit is die hoofrede waarom ek tennis kyk,” het die Fransman Richard Gasquet gesê.

En hoewel statistieke nie noodwendig die belangrikste maatstaf moet wees om die beste ooit te bepaal nie, sorg dit altyd vir interessante leesstof en blyk dit dat Novak hier met die louere wegstap.

As ons suiwer fokus op hoeveel wedstryde elkeen gewen het, loop Federer loshande voor met 1 251 wedstryde wat hy tot dusver gewen het. Novak het egter die meeste Meestertitels (37) verower. Hy is ook die speler wat vir die meeste weke boaan die wêreldranglys gestaan het (358) én het sewe keer die jaar as die wêreld se no. 1-tennisspeler afgesluit. Hy is boonop die jongste (34) van die drie spelers.

  • Só weeg die spelers se loopbaanstatistieke teen mekaar op:

Novak Djokovic:

Wenrekord: Die Serwiër het al 989 wedstryde in sy loopbaan gewen en 199 verloor.

Prysgeld: $154 756 726

Grand Slam-titels: 20

Meester 1 000-titels: 37

ATP-eindtoernooi-titels: 5

Olimpiese goue medaljes: 0

Hoeveel keer het hy die jaar as die wêreldno. 1-speler afgesluit: 7

Weke boaan die wêreldranglys: 358

Rafael Nadal:

Wenrekord: Die Spanjaard het al 1 038 wedstryde gewen en 209 verloor.

Prysgeld: $127 121 385

Grand Slam-titels: 21

Meester 1 000-titels: 36

ATP-eindtoernooi-titels: 0

Olimpiese goue medaljes: 1

Hoeveel keer het hy die jaar as die wêreldno. 1-speler afgesluit: 5

Weke boaan die wêreldranglys: 209

Roger Federer:

Wenrekord: Die Switserse speler het al 1 251 wedstryde gewen en 275 verloor.

Prysgeld: $130 594 339

Grand Slam-titels: 20

Meester 1 000-titels: 28

ATP-eindtoernooi-titels: 6

Olimpiese goue medaljes: 0

Hoeveel keer het hy die jaar as die wêreldno. 1-speler afgesluit: 5

Weke boaan die wêreldranglys: 310

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Thom ·

In ” majors ” het Rafa en Novax al 17 keer teen mekaar gespeel met Rafa wat 10 – 7 voorloop __ sê maar net .

Michael ·

In alle wedstryde loop Novak 30-28 voor teen Rafa en Novak loop 27-23 voor teen Federer. Ogv die statistiek reken ek dat Novak tans die GOAT is

Thom ·

Die vermoë van ‘n speler om sy spelpeil tydens groot wedstryde te lig is belangriker as die gewone statistiek gedurende alle wedstryde .

Treurwilger ·

Nadal is ongetwyfeld die Kleikoning, maar daardie tendens is ook aan die draai soos die Franse Ope 2021 gewys het.

Treurwilger ·

Interessante statistiek.
Novak Djokovic mag wel nie so gewild soos die ander twee wees in die Weste nie, maar die wêreld is groter as dit.
‘Skare-gunstelinge ‘ is “people-pleasers”, gee my honderd maal eerder mense soos Sampras, Lendl, Novak en nou Medvedev wat hul eie mens is.
Die hedendaagse neiging dat spelers behoorlik moet ‘gatkruip’ om die skare se guns te wen, en nie uitgejou te word nie, is ‘n onding.
Mag Novak spoedig die geleentheid gegun word om weer tennis te speel, wanneer die mensdom hopelik van Covid-waansin herstel het.

Kirst ·

Nadal loop vir seker loshande voor met die aantal keer wat hy op die baan aan sy agterwereld grou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.