Wie kan Hamilton en Mercedes klop?

Lewis Hamilton (middel) saam met Max Verstappen (links) en Valtteri Bottas op die podium. (Foto: Leonhard Foeger/Pool via AP)

Dit het die Mercedes-renspan net twee Formule Een-renne gekos om die spinnerakke van die Covid-19-pandemie af te skud.

Lewis Hamilton (Mercedes) het Sondag die Stiermarkse F1- Grand Prix net buite Spielberg gewen met sy spanmaat, Valtteri Bottas, tweede.

Hulle is gevolg deur die twee Red Bull-jaers, Max Verstappen en Alexander Albon, met Lando Norris (McLaren) vyfde en Sergio Perez (Racing Point) sesde.

Dit was Hamilton se 82ste sege en hy kruip al hoe nader aan die rekordgetal 91 van Michael Schumacher.

Valtteri Bottas in aksie. (Foto: Joe Klamar/Pool via AP)

Nadat die F1-seisoen verlede week op dieselfde baan dramaties hervat is nadat dit maande lank in watte toegedraai is oor die koronavirus, was dit Sondag ʼn bra vervelige ren, want Mercedes het sy heerskappy beklemtoon en getoon dat hy nie sy gelyke het nie.

Weg was verlede week se drama van die baan af oor die Black Lives Matter-protesoptrede teen rassisme. Weg was die dramatiese tweestryde, die rits ongelukke, die veiligheidsmotor wat drie keer in die laaste 20 minute ontplooi is.

Sebastian Vettel (links) en Lewis Hamilton voor die wedren. (Foto: Mark Thompson/Pool via AP)

Hamilton, wat in die voorste wegspringposisie weggespring het, was benewens een of twee rondtes ná sy kuipestop om bande om te ruil, voor en so het dit gebly.

Die grootste opwinding was in die derde draai ná die wegspring toe die twee Ferrari’s van Charles Leclerc en Sebastian Vettel teen mekaar gebots het en albei se drome daarmee heen was.

Dit sou heel waarskynlik nie saak gemaak het nie, want die Ferrari-span se kraglewering is power en die span is net ʼn skaduwee van ʼn paar jaar gelede.

Bottas (43 punte) is ná verlede week se sege voor op die puntelys gevolg deur Hamilton (37), Norris (26), Leclerc (18), Perez (16) en Verstappen (15).

Aanstaande naweek vind die Hongaarse F1-ren in Boedapest plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

Nee stop. Was dit vervelig omdat die Ferraris nie daar was nie en Mercedes gewen het?
Pieter het jy die ren gekyk??? Is dit net opwindend as karre in ‘n botsing betrokke is?
Die kompetering in die middel groep was uit die boonste rakke. ‘n Williams wat 11de weg spring? Norris se ren met die Mclaren? Perez se aanvalle?
Geen woord oor die sopnat kwalifiseerings rondte nie?

twaalfboor

Al verbeter Hamilton Schumacher se rekord, is daar nogsteeds net EEN Schumacher…… en Hamilton sal NOOIT in sy klas kan wees nie.