Williams-susters weer op pad na eindstryd teen mekaar

Venus en Serena Williams. foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth

Venus en Serena Williams. foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth

Die derde gekeurde Milos Raonic het Maandag deurgedring na die mans-kwarteindronde van die Australiese Ope-tennistoernooi deur Roberto Bautista Agut (13) in vier stelle te klop. Intussen lyk dit of die twee Williams-susters mekaar dalk weer in die eindstryd kan pak.

Die Spanjaard Agut het goed gespeel, maar was net nie opgewasse teen die Kanadese reus Raonic se afslane nie.

Dominic Thiem (8) van Oostenryk kon, ná ʼn baie goeie eerste stel waarin hy veral met sy verbyhoue beïndruk het, ook nie die mas opkom teen die 11de gekeurde Belg, David Goffin, nie. Goffin het 5-7, 7-6, 6-2, en 6-1 gewen.

Grigor Dimitrov (15) het Denis Istomin in vier stelle geklop: 2-6, 7-6, 6-2, 6-1. Die ongekeurde Istomin het ʼn baie goeie toernooi gehad waarvan die stryd teen die nommer twee-gekeurde Novak Djokovic (2) in die tweede ronde seker die hoogtepunt was.

Die laaste wedstryd van die vierde ronde wat Maandag gespeel is, was dié tussen die negende gekeurde Rafael Nadal en die akrobatiese Fransman, Gael Monfils (6). Die wedstryd het skitterende tennis opgelewer en dit is verblydend om te sien dat die Nadal van ouds terug is om homself op die tennisbaan te laat geld. Nadal het in vier stelle gewen: 6-3, 6-3, 4-6, 6-4.

♦  Die vroue-eindstryd kan moontlik weer tussen die Williams-susters beslis word. Die 35-jarige Serena, wat tweede vir die toernooi gekeur is, het by haar ouer suster, Venus (13), in die kwarteindronde aangesluit nadat sy die Tsjeg Barbora Zahlavova Strycova (16) in twee stelle geklop het: 7-5, 6-4. Serena het aanvanklik met haar afslaan gesukkel maar reggeruk en in die tweede stel haar kragtennis gebruik om sodoende so vinnig moontlik uit die skroeiende hitte te kom.

Johanna Konta (9), Brittanje se laaste speler in die toernooi, het korte mette van Ekaterina Marakova (30) gemaak, 6-1, 6-4, en sal in die kwarteind teen Serena Williams te staan kom.

Karolina Pliskova (Tsjeggië) het die laaste Aussie in die toernooi, Daria Gavrilova (22), uitgeskakel (6-3,6-3) en die 34-jarige Mirjana Lucic-Baroni het Jennifer Brady se toernooi met ʼn telling van 6-4,6-2 beëindig.

Lucic-Baroni is in die laat-1990’s as tennis se blinkste jong ster beskou. Sy het in 1999 die kwarteindronde op Wimbledon teen Steffie Graf verloor maar beserings en persoonlike probleme het ʼn vroeë einde aan haar tennisloopbaan gebring. Sy moes weer van vooraf aan haar loopbaan bou.

Kwarteindronde: 

Dinsdag:

Mans:

Stan Wawrinka (4) (Switserland) teen Jo-Wilfried Tsonga (12) (Frankryk)
Mischa Zverev (Duitsland) teen Roger Federer (17) (Switserland)

Vroue:
Venus Williams (13) (VSA) teen Anastasia Pavluchenkova (24) (Rusland)
CoCo Vanderweghe (VSA) teen Garbiñe Muguruza (7) (Spanje)

Woensdag

Mans:

Rafael Nadal (Spanje) (9) teen Milos Raonic (3) (Kanada)
Davd Goffin (11) België teen Grigor Dimitrov (15) Bulgarye

Vroue:
Karolina Pliskova (5) (Tsjeggië) (5) teen Mirjana Lucic-Baroni (Kroasië)
Johanna Konta (9) (Brittanje) teen Serena Williams (VSA) (2)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.