Wimbledon: Anderson het toestemming vir spanbroek

Kevin Anderson (Foto: Wimbledon, Twitter)

Suid-Afrika se Kevin Anderson het toestemming gekry om af te wyk van Wimbledon se streng en tradisionele wit kleredrag-kode as gevolg van mediese redes.

Dit volg ná sy epiese oorwinning van 7-6, 6-7, 6-7, 6-4, 26-24 oor John Isner Vrydagaand tydens die halfeindstryd. Albei spelers moes deur die pyn- en uitputtingsgrens breek tydens ʼn uitmergelende wedstryd van ses uur en 36 minute.

Anderson sukkel oor die afgelope 18 maande met ʼn dyspierbesering. “Ek verstaan as dit ʼn mediese toestel is en dit is nie wit nie, is dit oukei. Hierdie is nie ʼn gewone kompressie-broek nie, dit is ʼn gespesialiseerde kledingstuk, en daarom het hulle dit goedgekeur en mag ek dit dra,” het hy verduidelik.

Op ʼn vraag oor wat hom deur die uitmergelende halfeindstryd gekry het, die langste halfeindstryd in die geskiedenis van Wimbledon, het hy gesê: “Ek weet nie wat dit was buiten die wil om suksesvol te wees nie, om aan te hou om myself te druk. Mens is regtig in ʼn oorlewingstryd. Dit is ver meer as net ʼn gewone tenniswedstryd of taktiek. Dis eintlik net wie langer kan uithou.”

Anderson het dadelik ná die wedstryd in die ystenk geklim en strekoefeninge gedoen om seker te maak hy is reg vir die eindstryd teen Novak Djokovic, van Serwië.

Anderson het die eerste Suid-Afrikaanse man in 97 jaar geword om na Wimbledon se eindstryd deur te dring sedert Brian Norton dit in 1921 gedoen het.

Hy staan nou die kans om groot prysgeld los te slaan. Indien hy tweede kom, gaan hy met £1,125 miljoen huis toe. Indien hy die eindstryd wen, kry hy prysgeld van £2,25 miljoen.

Die 32-jarige Anderson, 2.03 m lank, is agtste gekeur.

Die 31-jarige Djokovic, 1.88 m lank, is 21ste gekeur. Hy het al drie keer die Wimbledon-titel verower (2011, 2014 en 2015).

Anderson en Djokovic kom op 15 Julie 2018 om 15:00 (Suid-Afrikaanse tyd) teen mekaar te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Karin Botha ·

Kevin Curren n Suid Afrikaner in 1985 in eindstryd op Wimbledon dus 33 jaar gelede n Suid Afrikaanse man op Wimbledon vir finaal

Reg-help ·

Hy was alreeds n Amerikaanse burger op daardie stadium, dus word hy nie as n Suid-Afrikaner “gesien” nie en dit nie so in die boeke aangeteken is nie. ( het ook die Amerikaanse vlag langs sy naam gehad)

J K ·

Hy het as n Amerikaner deel geneem daarom neem hulle nie Kevin Curren as die laaste SA speler nie. ?

Neels ·

Maroela, gee vir ons die waarde van die Wimbledon prysgeld ook in Rand. Sou Anderson verloor, kry hy R19.75 miljoen. Indien hy wen, kry hy R39.7 miljoen.
En waarom moet ek na Media24 gaan as ek ‘n bal-vir-bal kommentaar op die internet wil volg, en nie op die TV nie? (Ek kyk glad nie TV nie).

Neels ·

Terloops: Dit hondmaklik om die wisselkoers te bepaal. Google eenvoudig: “1.2 pound rand”.

IK ·

So dit het met hom broekskeur gegaan! ‘Indien hy tweede kom’, ek glo hy is reeds ten minste tweede!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.