Wimbledon: Anderson ná eerste ronde uitgeskakel

Kevin Anderson. Foto: AP Photo/Vincent Thian

Kevin Anderson. Foto: AP Photo/Vincent Thian

Suid-Afrika se voorste tennisspeler het in die eerste ronde van Wimbledon vasgeval.

Die 20ste gekeurde Kevin Anderson is Maandag deur die relatief onbekende Denis Istomin van Oezbekistan uitgeskakel.

Dit is die derde keer in vanjaar se vier Grand Slam-toernooie dat Anderson in die eerste ronde geklop word. Hy is in die eerste rondes van die Australiese Ope en die Franse Ope in die eerste ronde uitgeskakel.

Die 30-jarige Anderson, sedert 2008 Suid-Afrika se voorste mansspeler, het onlangs weer, na ʼn klein enkeloperasie en ʼn paar ander beserings, in die ATP-toernooie begin speel.

Die groot afslaner het Maandag die eerste twee stelle teen Istomin gewen, maar daarna begin klei trap en in vyf stelle met 6-4, 7-6, 4-6, 6-7 en 3-6 verloor.

Suid-Afrika se Raven Klaasen speel later in die week saam met sy Amerikaanse dubbelspelmaat, Rajeev Ram, teen Gilles Müller van Luxemburg en ʼn voormalige dubbelspel-wenner op Wimbledon, Frederik Nielsen van Denemarke, in die eerste ronde.

Klaasen en Ram het onlangs die dubbelspel by die Wimbledonse ‘opwarmingstoernooi’, die Gerry Weber Ope in Duitsland, gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.