Wimbledon: Barty klop Pliskova

Australië se Ashleigh Barty vier haar oorwinning op Wimbledon. (Foto: Adrian Dinnis/ AFP)

Om gespanne voor enige eindstryd in enige sportsoort te wees, was al voorheen die ondergang van menige sportlui.

Saterdagmiddag op Wimbledon se hoofbaan was dit die remskoen van Karolina Pliskova van die Tsjeggiese Republiek toe die Australiër Ashleigh Barty die vroue-eindstryd gewen het deur met 6-3, 6-7(7/4) 6-3 in een uur en 56 minute te seëvier.

Dit is Barty se eerste (senior) titel op Wimbledon, hoewel sy voorheen reeds die Franse Ope gewen het.

Sy het haar dus aangesluit by haar landgenoot Evonne (Goolagong) Cawley, wat 50 jaar gelede ook op Wimbledon die vroue-enkelspeltitel gewen het.

Barty het ook die eerste Ausrtaliër sedert 2002 geword wat weer op Wimbledon kon seëvier nadat Lleyton Hewitt dit in 2002 in die mansenkelspel vermag het.

Dit was seker heel gepas dat die wêreld se beste vrouespeler dié Grand Slam gewen het.

Sy het byna elke bal gejaag, haar houeplasings was puik en haar afslane was deurgaans van die boonste rak.

Barty het in die eerste stel soos ʼn sneltrein weggetrek en die gespanne Pliskova kon eers in die vierde pot haar eerste punt wen.

In die tweede stel het Pliskova se senuwees gekalmeer. Haar eerste afslane het die kol begin tref, haar houplasings was puik en sy het twee keer op Barty se afslaan deurgebreek om die stel met 7-6 te wen ná ’n uitkloppot.

Haar afrigter, Sascha Bajin en haar man, Michal Hrdlička, het ewe skielik uit hul sitplekke ontwaak en elke wenhou toegejuig.

Hier kom ’n ding, het die volgepakte stadion begin dink.

Maar dit was van korte duur, want die kliniese Barty het vasgebyt en die beslissende stel met 6-3 gewen.

Dit was slegs die eerste keer sedert 2006 dat die vroue-enkelspel oor drie stelle gestrek het en tien jaar het verloop sedert Barty die junior titel op Wimbledon verower het.

Toe is haar naam al in goue letters op Wimbledon geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jakes ·

Geluk aan Barty, sy verdien die sege. Philiskova was self haar grootste vyand en haar gebrek aan konsentrasie was haar ondergang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.