Wimbledon begin met ’n tennisknal

Brittanje se Andy Murray. Argieffoto.

Spelers soos Daniil Medvedev, Andrey Rublev en Victoria Azarenka is dalk verbied om op Wimbledon af te slaan, terwyl die wêreldtennisbeheerliggame die ikoniese grasbaantoernooi van sy status gestroop het; maar daar is nogtans ’n spul sterre wat sake sal uitspook om met die louere weg te stap.

Novak Djokovic se veldtog om sy vierde agtereenvolgende titel in te oes begin vandag, terwyl Carlos Alcaraz en Andy Murray ook in aksie sal wees.

Indien Djokovic vanjaar weer sou wen, sal dit sy sewende Wimbledon-titel wees. Dit is ’n prestasie wat hom gelyk op die algehele wenlys met Pete Sampras plaas, terwyl hy dan ook binne trefafstand van Roger Federer met sy agt titels is.

“Sampras se eerste sukses op Wimbledon in 1993 was die eerste tenniswedstryd wat ek op televisie gevolg het. Ek sal daarvan hou om weer in ’n eindstryd te speel en hopelik kan ek dan in sy voetspore volg,” het Djokovic op die vooraand van sy wedstryd teen Soonwoo Kwon van Suid-Korea gesê.

Dan sal Alcaraz poog om sy stempel ook op grasbaantoernooie af te druk wanneer hy teen Duitsland se Jan-Lennard Struff te staan kom.

Die 19-jarige Spanjaard het verlede jaar in die tweede ronde teen Medvedev vasgeval, maar hy het vanjaar reeds 32 wedstryde asook ’n paar toernooie gewen om as een van die gevaarmanne gereken te word.

“Hy is sterk, beweeg ongelooflik goed op die baan rond en raak nie sommer verbouereerd wanneer dinge nie dadelik volgens plan verloop nie,” was John-Laffnie de Jager se raakvat-opsomming van Alcaraz.

Die jong speler sal ook vir sy kwarteindstryd-nederlaag teen Alexander Zverev in Parys wil vergoed.

Op sy beurt sal Murray met genoeg selfvertroue teen James Duckworth van Australië speel. Die Skot het immers ’n paar weke terug met gerekende spelers soos Stefanos Tsitsipas en Nick Kyrgios in Stuttgart klaargespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.