Wimbledon gee prysgeld, al is daar geen toernooi

(Foto: Bob Martin/AELTC via AP)

Wimbledon gaan steeds £10 miljoen (sowat R210 miljoen) in prysgeld aan 620 spelers uitbetaal al is die tennistoernooi weens die koronavirus-pandemie gekanselleer.

Die 256 spelers wat in die hoofloting sou deelneem, kry sowat R520 000 elk terwyl die 224 spelers wat in die kwalifiserende rondes sou deelneem sowat R260 000 elk kry.

Boonop sal die 120 spelers wat in dubbelspel sou meeding, elk sowat R130 000 ontvang terwyl die spelers wat aan die verskillende vorme van die rolstoelbyeenkomste sou deelneem onderskeidelik sowat R125 000 en R104 000 elk sal ontvang.

“Ons weet dat hierdie afgelope paar maande van onsekerheid baie kommerwekkend was vir al die betrokkenes en dat baie van hulle finansiële probleme gedurende hierdie periode ondervind het. Ons weet ook dat hulle sou verwag om prysgeld by Wimbledon te verdien op grond van hul plek op die wêreldranglys,” het Richard Lewis, uitvoerende hoof van die All England Club, gesê.

Die koronavirus-pandemie het die organiseerders genoop om die toernooi vir die eerste keer sedert 1945 te kanselleer.

“Ons is bly dat ons versekeringspolis ons toegelaat het om die impak van die kansellasie op die spelers te erken en dat ons nou die betaling kan bied as ʼn beloning vir die harde werk wat hulle ingesit het om hul rangorde te verhoog tot waar hulle regstreekse toetrede tot die kampioenskap van 2020 sou gekry het,” het Lewis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae