Wimbledon: Nadal/Djokovic-halfeind hervat Saterdagmiddag

Rafael Nadal (Foto: Wimbledon, Twitter)

Rafael Nadal en Novak Djokovic se halfeindstryd in die Wimbledon-tennistoernooi hervat Saterdagmiddag nadat dit Vrydagaand opgeskort is.

Nadal en Djokovic kon eers teen ongeveer 20:00 (BST) met hul wedstryd begin ná ʼn uitmergelende halfeind van ses uur en 36 minute tussen John Isner van Amerika en Kevin Anderson van Suid-Afrika. Anderson het uiteindelik 7-6(6), 6-7(5), 6-7(9), 6-4, 26-24 met Isner afgereken. Dit is die langste halfeind in die geskiedenis van Wimbledon.

Nadal en Djokovic kon slegs drie stelle binne die drie ure, voor die Wimbledon-bane vir die dag sluit, afhandel. Wimbledon het ʼn klokreël van 23:00 waar alle wedstryde wat steeds aan die gang is, opgeskort moet word.

Djokovic neem die voortou met 6-4, 3-6, 7-6 (11-9).

Die wedstryd hervat om 13:00 (BST) (14:00 Suid-Afrikaanse tyd), net ʼn uur voor die geskeduleerde tyd vir die vroue enkelspel-finaal tussen Serena Williams (Amerika) en Angelique Kerber (Duitsland).

Indien Nadal en Djokovic se wedstryd langer as ʼn uur sal duur, sal die vroue-finaal uitgestel moet word.

Die wenner van die wedstryd kom Sondag in die finaal teen Suid-Afrika se Kevin Anderson te staan.

Raven Klaasen (35), van King William’s Town in die Oos-Kaap, en sy dubbelspelmaat Michael Venus (30) van Nieu-Seeland, kom Saterdag ook teen die Amerikaners Mike Bryan (40) en Jack Sock (25) te staan. Dié wedstryd is tans geskeduleer vir 16:15 (Suid-Afrikaanse tyd).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.