Wimbledon: Selfs vir Federer was dit ʼn spesiale dag

Roger Federe. Foto: AP Photo/Tim Ireland

Roger Federe. Foto: AP Photo/Tim Ireland

Die derde gekeurde Roger Federer erken dit was vir hom ook amper ʼn feëverhaal, nadat hy die 772ste gekeurde Marcus Willis, Woensdag in die tweede ronde van die mans-enkelspel op Wimbledon geklop het.

Vir Willis was dit inderdaad ʼn sprokiesdag, al het Federer hom 6-0, 6-3 en 6-4 geklop en al is die derde dag deur reën ontwrig.

Dié 25-jarige afrigter van bejaardes en kinders op Wokingham, wat nog nooit groot tennis gespeel het nie, is deur sy meisie omgepraat om vir Wimbledon te probeer kwalifiseer.

Hy is 772ste ter wêreld gekeur en moes vyf kwalifiserende wedstryde wen vir die groot prys om op Wimbledon te kan speel. En daar wen hy toe Maandag teen die verwagting in ook sy eerste ronde en moet toe volgens die loting in die tweede ronde teen die grote Roger Federer speel – en dit op die hoofbaan van Wimbledon!

Federer, ʼn sewemalige wenner van die Wimbledonse enkelspel-titel, het agterna gesê dit is een van die wedstryde wat hy sal onthou uit die 1 321 wedstryde wat hy as beroepspeler agter die rug het.

Marcus Willis. Foto: AP Photo/Tim Ireland

Marcus Willis. Foto: AP Photo/Tim Ireland

“Ek onthou al my wedstryde hier op Wimbledon se hoofbaan, maar hierdie een was spesiaal, omdat dit nie sommer weer sal gebeur dat ek hier teen iemand speel wat 772ste in die wêreld gekeur is nie.

“Wat ek ook sal onthou is die ondersteuning wat hy van die toeskouers gekry het en die goeie punte wat hy gespeel het.

“Ek was daarop uit om die wedstryd soveel moontlik te geniet, maar ek moes in daardie eerste stel werklik konsentreer om seker te maak ek neem die voortou.”

Willis het eerste op die baan gestap en hy is laaste af. Die gewilde Federer het hom in die kalklig geplaas op ʼn dag waar dié man, wat nog fiks bly, oefen en hier en daar in Brittanje speel, sy grootste oomblik beleef het.

En Willis? “Ek dink ek het nou ʼn bier verdien.”

Willis, wat maar 23ste in Brittanje gekeur is en dusver vanjaar ʼn skamele £200 as prysgeld verdien het, kry £50 000 vir sy poging op Wimbledon. Hy sal van 772ste op die wêreldranglys na sowat 416de opskuif. En hy wil nou meer hê. “Daar is lewe na Wimbledon en ek wil meer hiervan hê,” sê hy oor sy ervaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

Dit was ‘n aanskoulike wedstryd. Willis se speelstyl het hemelsbreed van Federer s’n verskil. Toe Willis in die tweede stel sy eerste pot wen, het hy ordentlik fees gevier en dit was heerlik om te sien. Die kommentators het opgemerk dat Centre Court soos ‘n sirkusarena voel wanneer die dak toegetrek is en die spel was, net soos ‘n sirkus, baie vermaaklik.

Francie ·

Watter plesierigheid was dit nie, ‘n wedstryd wat ek self met lekkerkry sal onthou. Marcus Willis se opregte en kinderlike genieting van die geleentheid was duidelik te sien. Ek het so half verwag hy gaan Federer se handtekening en ‘n selfie saam vra !!! En Roger Federer? Groot genoeg om vir Willis sy oomblik van glorie te gun.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.