Wind, landgenoot stuit Alcaraz nie

Carlos Alcaraz marsjeer voort in Barcelona. (Foto: Twitter/Barcelona-ope)

Ondanks Roberto Bautista Agut se verbete terugvegpoging in die beslissende stel, het Carlos Alcaraz steeds vir die kwarteindstryd van die Barcelona-ope gekwalifiseer.

Die wêreld se naasbeste speler het in winderige toestande die stryd van die Spanjaarde met 6-3 en 7-5 gewen.

“Dit was baie moeilik om in hierdie toestande te speel en ek moes noodgedwonge my spel aanpas. Terselfdertyd is Roberto ʼn uitstekende speler wat my die heeltyd op my tone gehou het,” het Alcaraz gesê.

Hy sal nou teen nóg ʼn Spanjaard – Alejandro Davidovich Fokina – in die kwarteindstryd te staan kom.

Op sy beurt het Andrey Rublev korte mette met sy teenstander in Bosnië gemaak. Die Monte Carlo-kampioen het Juan Pablo Varillas met 6-2 en 6-2 ore aangesit.

Indien die Rus ook hier met die louere sou wegstap, kan hy na die vierde plek op die ATP-ranglys spring.

Novak Djokovic staan egter in sy pad. Die wêreld se voorste speler sal poog om in sy 94ste ATP-toereindstryd te speel.

Hy speel juis later vandag in die kwarteindstryd van die toernooi teen Dusan Lajovic.

  • Uitslae:

Barcelona-ope:

Francisco Cerundolo klop Casper Ruud met 7-6 en 6-3

Dan Evans klop Karen Khachanov met 6-3 en 6-4

Carlos Alcaraz klop Roberto Bautista Agut met 6-3 en 7-5

Lorenzo Musetti klop Cameron Norrie met 3-6, 6-4 en 6-1

Stefanos Tsitsipas klop Denis Shapovalov met 6-3 en 6-2

Jannik Sinner klop Yoshihito Nishioka met 6-1, 4-6 en 6-3

Banja Luka-ope:

Andrey Rublev klop Juan Pablo Varillas met 6-2 en 6-2

Jiri Lehecka klop Radu Albot met 6-0 en 6-2

Damir Dzumhur klop Richard Gasquet met 6-4, 1-6 en 7-6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.