Wink F1-terugkeer vir Vettel?

Sebastian Vettel se finale F1-wedren was op 20 November 2022 in Abu Dhabi. (Foto: Florent Gooden/DPPI via AFP)

ʼn Jaar en ʼn paar maande ná sy uittrede is daar nou sprake dat ʼn F1-terugkeer vir Sebastian Vettel wink. En boonop agter die stuur van ʼn Mercedes.

“Ja, ek praat met Toto (Wolff),” het die viermalige wêreldkampioen erken.

Volgens Vettel, wat sy titels tussen 2010 en 2013 saam met Red Bull ingeoes het, moet hy ʼn moontlike F1-herlewing teen sy gesinslewe opweeg.

“My doelwitte het verander – van wedrenseges en wêreldtitels na die droom om my kinders te sien groot word. Ek wil vir hulle waardes leer en ophelp wanneer hulle val, maar die belangrikste is om ook by hulle te leer en hulle toe te laat om my ook te inspireer. My beste wedren is beslis om die draai,” het hy gesê toe hy sy uittrede aangekondig het.

Maar hy oorweeg beslis ʼn terugkeer.

“Ek moet egter erken dat ek ook met ander spanhoofde gesels; en nie net oor wedrenne nie. Ek dink gereeld aan ʼn terugkeer, maar niks is nog definitief nie.”

Mercedes is op soek na ʼn spanmaat vir George Russell nadat Lewis Hamilton vroeër vanjaar aangekondig het dat hy in 2025 deel van die Ferrari-opset gaan word.

Dié besluit het Vettel onkant betrap.

“Ek was baie verras, maar terselfdertyd is dit ook ʼn opwindende verwikkeling. Lewis soek ongetwyfeld na ʼn nuwe uitdaging en dit gaan ʼn aanpassing wees om hom in rooi te sien.”

Die 36-jarige Duitser was vir ʼn paar jaar ook ʼn Ferrari-renjaer en die vreugdevure het omtrent hoog in Italië gebrand toe dié aankondiging destyds gemaak is.

Maar ná net 14 wedrenseges in 102 probeerslae saam met Ferrari is daar gesamentlik in 2020 aangekondig dat sy en die motorvervaardiger se paaie gaan skei.

Tog is hy die derde suksesvolste jaer in Ferrari-geskiedenis, terwyl hy die meeste punte vir die span aangeteken het. Terselfdertyd is sy 53 loopbaanoorwinnings die derde meeste in F1-geskiedenis.

Vettel is nog motorsportfiks – hy is Porsche se toetsbestuurder vir die Le Mans-uithouwedren.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.