Wolff dankbaar Bottas is g’n mak lammetjie

Valtteri Bottas. Foto: Patricia de Melo Moreira/AFP.

’n Gefrustreerde Valtteri Bottas het Sondag sy Mercedes-span se ore tydens die Franse Grand Prix laat tuit.

Die 31-jarige renjaer was warm onder die kraag omdat Mercedes sy versoek geïgnoreer het om vir die tweede keer die kuipe te besoek. Nuwe bande het ’n deurslaggewende rol in die wedren gespeel en Red Bull se Max Verstappen en Sergio Perez het hom met gemak in die doodsnikke van die resies verbygesteek.

“Waarom luister niemand na my wanneer ek sê dit gaan ’n tweestop-resies wees nie?” het ’n vloekende Bottas kwaai oor die radio gevra.

Die vlieënde Fin was veral vies omdat hy vierde geëindig het nadat ’n podiumplek vir hom gewink het. Deur Bottas se versoek te ignoreer is punte op die kampioenskapranglys weggesmyt; ’n strategie wat deur sommiges as verregaande bestempel is.

Tog is die Mercedes-spanhoof, Toto Wolff, in sy noppies met Bottas se tirade.

“Ek is mal daaroor dat hy nou sê wat hom pla en dinge nie vir homself hou nie,” het Wolff na afloop van Sondag se Grand Prix gesê.

Die Fin is tans vyfde op die punteleer met sy 59 punte, terwyl Hamilton die tweede plek op die ranglys met sy 119 punte beklee.

Die verdedigende wêreldkampioen het al self in ’n vorige onderhoud gesê dat sy spanmaat meer krediet vir sy vermoë agter die stuur moet verdien.

“Ek dink Valtteri is beter as die meeste ander ouens hier; nie net wat bestuursvernuf betref nie, maar ook wat sy ingesteldheid en benadering betref,” het Hamilton gesê.

Daarteenoor meen Bottas dat hy ’n beter bestuurder as Hamilton is.

“Ek glo dat wanneer ek op my beste is, ek beter as Lewis kan vertoon. Daar is natuurlik dae wanneer hy ongetwyfeld beter bestuur en in die afgelope paar jaar dat ek sy spanmaat is, het hy beslis die oorhand gehad,” het Bottas gesê.

Hamilton se politieke oortuigings oorskadu egter soms sy prestasies op die renbaan, terwyl Bottas se aandag nie sommer afgetrek word nie.

“Ek doen nie die politieke ding nie; ek is net mal daaroor om aan wedrenne deel te neem. Ek hou van taai maar regverdige aksie op die baan en dit is ook hoe ek elke wedren wil aanpak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

Wollf, hier is plek vir jou in Suid Afrika. Dis ‘n antwoord soos net ‘n politikus kan gee.

Vonkprop

Hierdie het niks te doen met Bottas wat sy stem gevind het nie. Dit was ‘n uiters slegte besluit van Mercedes, punt. Luister na julle renjaers op die baan. Hulle is in die kar en weet wat gaan aan. Ek is bly Mercedes kry nou bietjie die wind van voor, kom bietjie aarde toe.