Wolff waarsku oor Hamilton/Verstappen-tweestryd

Lewis Hamilton en Max Verstappen ná die Amerikaanse Grand Prix. Foto: Robyn Beck/AFP.

Volgens Toto Wolff, Mercedes-spanbaas, kan dinge nog warm tussen Max Verstappen en Lewis Hamilton op die renbaan raak.

Met die eindstreep amper in sig – daar is nog vyf wedrenne op die kalender oor – geniet die jong Red Bull-renjaer ’n voorsprong van 12 punte oor die verdedigende wêreldkampioen.

Wolff het hul tweestryd met dié van Ayrton Senna en Alain Prost vergelyk; die vonke kan spat as die wêreldkampioen nog nie ’n uitgemaakte saak op 12 Desember in Abu Dhabi is nie.

Daarby – as ’n mens nou tussen die reëls lees – het die Mercedes-baas daarop gesinspeel dat Hamilton enigiets sal doen om te keer dat Verstappen met die louere wegstap.

“Wat het in Italië gebeur? Verstappen het vir Lewis uitgehaal omdat hy vinniger was en dit is heeltemal verstaanbaar,” het Wolff gesê.

Hoewel ’n paar kenners toe hul wenkbroue oor die straf gelig het, is die 24-jarige Nederlander met drie plekke op die Russiese Grand Prix-wegspringrooster gestraf omdat hy “hoofsaaklik” die skuld vir die botsing met Hamilton gedra het.

“Wanneer jy om die wêreldtitel jaag en jy sien hoe jou kanse kwyn omdat die ander ou jou verbysteek, wat anders kan jy doen? Ons het dieselfde met (Michael) Schumacher en (Jacques) Villeneuve gesien, asook met Senna en Prost.”

“Dit is nie iets wat ’n mens kan beheer nie. Sou jy verkies het dat die gladiators dinge 2 000 jaar gelede in die arena rustiger gevat het? Ons sal nie inmeng nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.