Zverev kies sy gunsteling

Alexander Zverev en Novak Djokovic. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP.

Met 60 Grand Slam-titels tussen die drie van hulle is dit g’n maklike taak om te bepaal wie die beste manstennisspeler nóg is nie.

Is dit Novak Djokovic, Roger Federer of Rafael Nadal?

Tennisliefhebbers regoor die wêreld het hul gunstelinge, maar soos wat daar destyds in die Highlander-flieks en -televisiereekse gesê is: Uiteindelik sal net een staande bly.

En volgens Alexander Zverev is daardie speler Djokovic.

“Die feit dat hulle elkeen 20 Grand Slam-titels gewen het, is ongelooflik en dit sal waarskynlik nooit geëwenaar word nie,” het die Duitser gesê.

Tog glo die wêreld se no. 3-speler dat die tyd wat ’n speler boaan die wêreldranglys deurbring van onskatbare waarde is. Djokovic swaai al vir meer as 350 weke in sy tennisloopbaan die septer as die wêreld se voorste speler.

“Novak is doodeenvoudig net kop en skouers bo die res. As hulle al drie vandag ophou tennis speel, sal Novak steeds die no. 1 wees.”

Djokovic sal egter nooit so gewild soos Nadal en Federer op die baan wees nie en hy word gereeld deur die toeskouers uitgejou.

“Dit is nou maar hoe dit is, maar terselfdertyd kan jy nie miskyk wat hy al op die baan vermag het nie. Hy het net soveel Grand Slam-titels as die ander twee, terwyl hy al baie meer Meesterstoernooie gewen het.”

Justine Henin stem met Zverev saam.

“Novak is ’n unieke speler. Ek dink dit is tyd dat mense begin besef hoe goed hy is,” het die Belgiese Grand Slam-wenner gesê.

“Jy kan van hom hou of nie – ek weet daar is baie mense wat nie veel ooghare vir hom het nie – maar wat hy op die tennisbaan vermag is doodeenvoudig verstommend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.