Zverev loop sy rieme teen 20-jarige styf

Alexander Zverev: Foto: AELTC/Jonathan Nackstrand(Photo by AELTC/Jonathan Nackstrand/AFP. /

Soms maak mense dinge vir hulself maklik. Volgens oorlewering wou die Beatles hul album van 1969 eintlik “Mount Everest” genoem het, maar toe is hulle nie lus om die hele ent na Nepal vir een foto te reis nie.

Die uiteinde?

’n Foto is sommer in die straat buite die opname-ateljee geneem en die suksesvolle Abbey Road-album het die lig gesien.

Maar as daar nou iemand is wat dinge nié vir homself maklik gemaak het nie, dan is dit Alexander Zverev in gister se kragmeting teen Felix Auger-Aliassime op Wimbledon.

Zverev, wat vierde in die toernooi gekeur is, het die een afslaan-flater na die ander gemaak om uiteindelik in vyf stelle met 6-4, 7-6, 3-6, 3-6 en 6-4 te verloor.

Die 24-jarige Duitser het uiteindelik 20 dubbelfoute en 42 ander ongedwonge foute begaan, terwyl die jong Kanadees in die kol met 17 kishoue was.

“Dit is ’n droom wat ’n werklikheid geword het en dit is ongetwyfeld die beste sege van my loopbaan,” het Auger-Aliassime ná die wedstryd gesê. Dit is ook die eerste keer dat hy vir die kwarteindstryd van ’n Grand-Slam-toernooi kwalifiseer.

Die 20-jarige speler beleef inderdaad ’n droomlopie nadat hy ook vroeër met Roger Federer in die Noventi-ope in Duitsland afgereken het.

Die jong Kanadees het daardie wedstryd met 4-6, 6-3 en 6-2 gewen om die 39-jarige tennislegende vir die eerste keer in 18 probeerslae uit die toernooi se kwarteindronde te hou. En boonop was die Duitsland-kragmetings ook op grasbane beslis.

Hy sal teen Italië se Matteo Berrettini in die kwarteindstryd van Wimbledon te staan kom.

Federer se opmars na sy negende Wimbledon-titel is ook nie verby nie nadat hy gister met Italië se Lorenzo Sonego klaargespeel het. Die eindtelling was 7-5, 6-4 en 6-2 in die Switserse legende se guns.

Novak Djokovic is egter steeds die gunsteling om met die louere weg te stap nadat hy verspot maklik vir Christian Garin met 6-2, 6-4 en 6-2 uitgeskakel het.

Die wêreld se voorste speler sal in môre se kwarteindstryd teen Hongarye se Marton Fucsovics – wat op sy beurt vir Andrey Rublev getem het – speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pamela ·

Dit was ‘n ongelooflike wedstryd gewees, soveel jong mense wat so goed speel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.