Zverev op vingers getik ná Mexiko-uitbarsting

Duitsland se Alexander Zverev. FOto: Mauro Pimentel/AFP.

Alexander Zverev is op die vingers getik ná sy uitbarsting verlede maand by ’n ATP500-toernooi in Mexiko.

Die jong Duitser het toe die skeidsregterstoel met sy raket bygedam, terwyl hy met sy striemende aanval Alessandro Germani (wedstrydbeampte) se ore laat tuit het.

Sy toernooi-veldtog is summier kortgeknip, terwyl hy ook met $40 000 beboet is.

Mats Wilander, die voormalige Grand Slam-kampioen, het sy misnoeë met die gebeure uitgespreek en aangevoer dat Zverev geskors moet word en ’n rehabilitasieprogram volg om sy woede in toom te kry.

“As ’n speler sy raket teen ’n skeidsregterstoel – net ’n paar sentimeter weg van die wedstrydbeampte se bene – stukkend slaan, dan moet die betrokke speler nie weer op ’n baan toegelaat word voordat hy nie een of ander rehabilitasieproses ondergaan het nie,” het Wilander gesê.

Die Sweedse ster het bygevoeg dat Zverev se beursie nie alleen die gevolge moet dra nie; as iemand homself só op die baan gedra, moet hy vir ’n hele paar maande geskors word.

“Dit sal nie baie regverdig jeens ander spelers wees as hy weer binne ’n oogwink toegelaat word om aan toernooie deel te neem nie.”

Die ATP het vandag Zverev vir agt weke geskors, terwyl hy ook met ’n bykomende $25 000 beboet is.

Die internasionale tennisbeheerliggaam het egter bygevoeg dat die skorsing en boete opgeskort kan word, mits die Olimpiese gouemedaljewenner gedurende ’n jaarlange proeftydperk ná die voorval geen verdere boetes vir onsportiewe gedrag opgelê word nie.

Volgens Serena Williams sou dinge baie anders vir haar uitgedraai het as sy soos Zverev tekere gegaan het.

Die 40-jarige Amerikaner het oor wêreldtennis se dubbele standaarde in ’n onderhoud met CNN gekla.

“Ek sou, sonder om te grap, waarskynlik in die tronk beland het as ek so iets gedoen het,” het die wenner van 23 Grand Slam-titels gesê.

Williams was self in die sop nadat sy in 2018 haar humeur in die eindstryd van die Amerikaanse Ope teen Naomi Osaka verloor het.

Sy is toe met $17 000 beboet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.