Anderson sit vir Mannarino ore aan

Kevin Anderson het vir die eerste keer sedert 2015 na die tweede ronde van die Australiese Ope deurgedring.Foto; AP Photo/Seth Wenig

“Ek vermoed dit sal mnr. Anderson wees.”

Dit klink dalk soos iets wat Agent Smith in elke Matrix-ontmoeting met Keanu Reeves sou gesê het, maar dit sal waarskynlik ook die meeste tenniskenners se antwoord wees as hulle gevra word watter top-gekeurde tennisspeler eerste uit die bus by die Australiese Ope sou val.

Want kom ons wees eerlik, Kevin Anderson se Melbourne-rekord is nou nie só watwonders nie.

Hy het reeds vantevore ses keer in die eerste ronde van dié Grand Slam vasgeval en kon laas in 2015 na die tweede ronde deurdring. Hy het juis verlede jaar in vyf stelle teen Brittanje se Kyle Edmund verloor.

Tog is die Anderson van 2019 (eintlik van die afgelope ruk) nie dieselfde Anderson van ’n paar jaar gelede nie. Die afslane van 225 km/h word nou goed gekomplimenteer deur ’n gemoedstoestand wat nie net weet hoe om die belangrike oomblikke te wen nie, maar ook die groot wedstryde. En hoe om hulle góéd te wen.

Anderson het Maandag sy Aussie Ope-nagmerrie beëindig toe hy vir Adrian Mannarino met drie stelle teen een geklop het.

Hy het die eerste stel met 6-3 beklink, maar die Vloek van Melbourne moes in sy agterkop gewees het toe hy die tweede stel 5-7 verloor het.

Maria Sharapova. Twitter @MariaSharapova)

Anderson het egter koelkop in die hitte gebly en gepaard met ’n taamlik langerige badkamerbreek – wat vir Mannarino rooi laat sien het – het hy die Fransman eintlik verspot maklik met 6-3, 5-7, 6-2, 6-1 gewen.

Hy kom nou in die volgende ronde teen die Amerikaner Frances Tiafo te staan.

Intussen het die Ope vir sy eerste opskudding gesorg toe die negende gekeurde John Isner deur sy Amerikaanse landgenoot Reilly Opelka verlaan is. Die telling was 7-6, 7-6, 6-7, 7-6.

Dan is Rafael Nadal ook deur na die volgende ronde nadat hy die Aussie James Duckworth in skoonstelle geklop het.

Ten tyde van publikasie, moes Roger Federer en Novak Djokovic nog speel.

Rusland se superster Maria Sharapova het haar wedstryd teen Harriet Dart maklik met 6-0, 6-0 gewen.

Van die eerste dag se uitslae:

Mans:
Fernando Verdasco (26) klop Miomir Kecmanovic: 7-6, 6-3, 6-3
Nikoloz Basilashvili (19) klop Christopher Eubanks: 6-4, 4-6, 7-6, 6-3
Kevin Anderson (5) klop Adrian Mannarino: 6-3, 5-7, 6-2, 6-1
Rafael Nadal (2) klop James Duckworth: 6-4, 6-3, 7-5
Reilly Opelka klop John Isner (9): 7-6, 7-6, 6-7, 7-6.

Vroue:
Aryna Sabalenka (11) klop Anna Kalinskaya 6-1, 6-4
Caroline Garcia (19) klop Jessika Ponchet: 6-2; 6-4
Danielle Collins klop Julia Goerges (14): 2-6, 7-6, 6-4
Lesya Tsurenko (24) klop Ekaterina Alexandrova: 6-4, 7-6

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.