14-jarige van SA breek wêreldrekord in Dubai

Simoné Kruger het skitterend in Dubai gevaar. Foto: Verskaf.

Sy mag dalk net 14 jaar oud wees, maar Suid-Afrika se Simoné Kruger het die wêreldrekord in die F38-diskusitem sommer twee keer op een dag verbeter.

Sy het vroeër die week in Dubai by die Wêreld Para-atletiekkampioenskap eers met ’n gooi van 33,23 m die rekord verbeter en ’n kort rukkie later met haar poging van 33,91 m haar eie rekord vermorsel.

“In die begin knaag die senuwees maar kwaai – die skoenlappers baljaar lekker in jou maag – maar al die ander atlete motiveer jou om beter te presteer,” het sy na die tyd in ’n video-onderhoud gesê.

Kruger het uiteindelik die silwermedalje in die veld gewen, terwyl Sjina se Na Mi (F37) die goue medalje ingepalm het.

Mi se gooi van 37,50 m is ook ’n nuwe kampioenskapsrekord.

“Om die silwermedalje te wen was ’n wonderlike gevoel,” het die gr. 8-leerder aan die Hoërskool Garsfontein in Pretoria gesê.

“Dit was soms ’n bietjie intimiderend om saam met die groter atlete in aksie te wees; maar eintlik skeel dit my nie veel nie: Ek probeer dan net om my beste te gee!”

Tog was haar wêreldrekordgooi nie veel van ’n verrassing vir haar afrigters nie.

Kruger oefen al vir ’n geruime tyd by die Pierre Blignaut Gewigstoot- en Diskusakademie in Krugersdorp en volgens haar afrigters skroom sy nie om hard te werk nie.

“Ek voorspel ’n baie blink toekoms vir Simoné. Sy sien haarself glad nie as ’n paraplegiese atleet nie en werk net so hard, of eintlik selfs harder, as enige ander atleet,” het Eben Vermaas, een van haar afrigters, gesê.

“Ons is baie trots op haar, want dit is die eerste groot byeenkoms waar nie een van die afrigters (die Vermaas-duo van Eben en Anri, Pierre Blignaut en haar pa, Andries Kruger) is nie.”

Volgende op Kruger se agenda is onder andere die Paralimpiese Spele in Tokio. En op 14-jarige ouderdom kan sy Suid-Afrikaners nog by ’n hele paar Spele trots maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria ·

Baie..baie…trots op jou baie baie geluk so bly vir jou hou aan vir jou pragtig toekoms wat voorle

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.