21-jarige nuwe wêreldrekordhouer in 400 m-hekkies

Sydney McLaughlin. (Foto: Andy Lyons/Getty Images/AFP)

Die 21-jarige Sydney McLaughlin het die eerste vrou geword om die 400 m-hekkies in minder as 52 sekondes te hardloop.

McLaughlin het Sondag tydens die Amerikaanse uitdunne vir die Olimpiese Spele ʼn rekordtyd van 51,9 sekondes aangeteken. Sy het sodoende Dalilah Muhammad se rekord van 52,16 sekondes wat tydens die 2019-Wêreldkampioenskap in Doha opgestel is, verbeter.

Muhammad moes Sondag met die tweede plek tevrede wees in ʼn tyd van 52,42 sekondes. Anna Cockrell het die derde kwalifiserende plek opgeraap in ʼn tyd van 53,7 sekondes.

Dit was nog ʼn klassieke tweestryd tussen McLaughlin en Muhammad, wat die afgelope vier seisoene die 400 m-hekkies oorheers.

Sondag se resies kon eers ná ʼn paar uur se vertraging plaasvind weens die rekord hittegolf wat Eugene, Oregon, tans ondervind.

Muhammad, wat vroeër die jaar eers ʼn blaaskans moes vat nadat sy Covid-19 opgedoen het, het ʼn effense voorsprong om die laaste draai gehad.

McLaughlin het egter in die pylvak behoorlik die krane oopgedraai om haar plek in die geskiedenisboeke te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.