66-jarige man hardloop al 508 km in sy huis

Li Zhanzhe hardloop in sy huis. Foto: Twitter.

Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. En vir die 66-jarige, ’n gesoute marathon-atleet, beteken daardie weg om daagliks te hardloop – selfs tydens die tydperk van afsondering in China.

Zhanzhe is al vir die afgelope twee maande in kwarantyn, tog probeer hy steeds om daagliks tussen 10 en 12 km te draf deur ’n roete tussen sy sitkamer en kombuis aan te durf.

Vroeër die week het hy bereken dat hy al 508 km op dié manier kaf gedraf het – min of meer gelykstaande aan 12 marathons.

“Ek hardloop elke dag tussen my kombuis en my sitkamer in my klein woonstel. Daar is weliswaar nie baie spasie nie; een ronde is ongeveer 10 m. Ek probeer om tussen 10 en 12 km elke dag te hardloop. Dit is ongeveer ’n duisend rondes en dit neem my ongeveer ’n uur om te voltooi,” het hy aan Runner’s World gesê.

Maroela Media het vroeër oor Elisha Nochomovitz berig, ’n Fransman wat ’n volle marathon op sy balkon in Toulouse voltooi het.

“Ek wou ’n bietjie humor aan die hele isolasie-tydperk verskaf, terwyl ek aan myself wou bewys dat ek steeds ’n marathon kan hardloop – ongeag die omstandighede,” het hy aan die media gesê.

Hy erken dat dit ietwat eentonig begin raak het om so heen en weer te hardloop, terwyl sy slimhorlosie ook heeltemal die kluts kwytgeraak het. Terselfdertyd was hy bekommerd dat sy bure oor die geluid van sy voetval sou kla – dit het hom immers 6 uur 48 minute geneem.

“My kop het lekker gedwaal terwyl ek gehardloop het. Ek het gedink aan wat alles gebeur het en wat nog kan gebeur. Die wêreld het gestop; alles van sport tot finansies. Ons het in geskiedenisklasse van oorloë tussen lande geleer, maar dít is iets wat ons nog nie voorheen teëgekom het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Schalk N ·

Respek vir die Persoon. Waar daar n wil is, IS DAAR N WEG!!! Puik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.