67-jarige hardloop sy 47ste agtereenvolgende Comrades

Louis Massyn is ’n Comrades-legende. Foto: Facebook.

As ʼn mens aan die Comrades-marathon dink, volg jou gedagtes onmiddellik die welbekende roete van Bruce Fordyce, Deon Holtzhausen en ’n paar Russe.

Maar in Odendaalsrus se wêreld skuil daar ook ’n Comrades-legende. Een wat net soveel agting en respek as Fordyce en Kie. verdien.

Louis Massyn, wat in Oktober 68 jaar oud word, het in 1973 op 22-jarige ouderdom sy eerste Comrades-marathon aangedurf. Sedertdien het hy vir 47 agtereenvolgende jare die roete tussen Pietermaritzburg en Durban afgelê. Ja, jy het reg gelees: vir sewe-en-veertig jáár.

“Ek was op skool – en ’skuus vir die woord – maar ’n lekker luigat gewees. In 1972 het ek egter in die Anglikaanse Kerk hier op Odendaalsrus gesit en die biskop het die Comrades by sy preek ingewerk. Ek het net daar en dan besluit om die volgende jaar een van die atlete by die wegspring te wees.”

Massyn het daad by die woord gevoeg en sy eerste Comrades in ’n tyd van tien uur 13 minute voltooi.

Nie te sleg vir iemand wat nie vooraf veel van ’n oefenprogram gevolg het nie, en nie ’n enkele wedloop vantevore voltooi het nie. Die Comrades was dus sy eerste wedloop. Ooit.

’n Paar dae voor die wegspring was hy nog van plan om die wedloop in twee pare tekkies kaf te draf – sy “duur” paar Adidas van R23,00 en sy “goedkoper” paar van R4,99.

Hy het egter die ganse 89 kilometer in die goedkoper paar voltooi.

“Toe ek my skoene uittrek, was dit letterlik ’n bloedbad – dit het gelyk asof ek van een of ander veldslag teruggekeer het.”

Massyn word deesdae deur die einste Adidas-skoenvervaardiger geborg.

Hy word met trots deur Adidas geborg. Foto: Facebook.

Met sy 40ste Comrades – in 2012 – het Adidas van sy ou paar tekkies gebruik om ’n spesiale aandenking te maak. Dié huldeblyk staan lewensgroot in die klubhuis van Goudveld Multisport in Welkom.

“Dit was altyd my droom om, wanneer ek uiteindelik ophou hardloop, my tekkies vol sement te gooi en ’n kroegmuur daarmee te bou. Ek het egter net verlede week ’n hele paar van my tekkies aan van die minderbevoorregte drawwers by die Ventersburg-“parkrun” geskenk.”

O ja, hy het ook die Twee Oseane-marathon in Kaapstad ’n verstommende 44 keer agtereenvolgens voltooi.

Word die Comrades dan so met die jare makliker?

“Nee, hoegenaamd nie. Ek dink net ek ken die pad al effens beter as die meeste,” sê hy laggend.

Massyn is beslis Odendaalsrus (én Suid-Afrika) se drawwende legende van die Comrades-langpad.

  • Sy beste tyd in die Comrades is ses uur 25 minute.
  • “Ek het destyds ’n hoë agting vir die Springbok-atleet Bernard Rose gehad en het probeer om sy metodes na te volg. Vir die laaste paar jaar probeer ek om so 1 200 km vóór die Comrades kaf te draf. Ek staan tans op so amper 900 km vir die jaar…”
  • Atlete het destyds R5/R6 betaal om vir die Comrades in te skryf.
  • Massyn het die Comrades/Twee Oseane-kombinasie 90 keer kafgedraf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

gabe ·

Welgedaan!! Dit is n baie groot prestasie en jy is n voorbeeld vir ons almal.

Boerboel ·

Oom ek hou vir jou duim vas dat jy dit vir die 47 ste keer gaan klaar maak. Jy is n’ yster. Sterkte en hoop die bene hou op die dag.

Jannie van Niekerk ·

Louis is my held vir dekades. Ek kan boeke vol skryf oor sy en wyle Blackie Swart se hardloop ervarings. Daar word nie genoem dat hy een van die min atlete is wat in sy eie leeftyd ‘n wedloop na hom vernoem gekry het nie, naamlik die Louis Massyn Kalahari Marathon nie. Louis hou sekerlik ook die rekord van die langafstand atleet wat die meeste marathonne ooit voltooi het. Daar is bitter min mense in die padwedloop sport wat nie die naam Louis Massyn ken nie. Wel gedaan m,y ou maat.

Johan ·

Wel gedaan n ware inspirasie vir mense, hier by ons in Sandringham JHB ook n persoon wat al 40 agtereenvolgende Comrades gehardloop het Vic Bosson

Hierdie manne laat my beskaamd want ek is om Louis se woorde te gebruik heeltemal te “luigat”om te hardloop

Patrys ·

Wel gedaan Louis – hoop jy’s reg vir die Comrades v/d lewe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.