Aandag op SA se atletiekblitse by nasionale kampioenskappe

Akani Simbine, gunsteling in die 100 m-naelloop. (Foto: Reg Caldecott/ANA)

Die aandag sal die naweek by die senior Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskappe in Potchefstroom op die mans-naellopers gefokus wees.

Die gehalte van die atlete wat Vrydag en Saterdag vir die 100 m- en 200 m-mans-eindwedloop in die blokke sal sak, vergelyk goed met deelnemers aan dergelike wedlope in Jamaika en die VSA.

Akani Simbine, tans tweede op die IAAF se 2017-ranglys, is die gunsteling om die 100 m-titel in te palm. Hy het reeds die seisoen tye van 9.92 s en 19.95 s in die naellope behaal en as Olimpiese finalis behoort hy die druk goed te verwerk.

Wayde van Niekerk, SA se Olimpiese en Wêreldkampioen en 400 m-wêreldrekordhouer, gaan ook aan die 200 m deelneem. Hy wil in Augustus by die Wêreldkampioenskap in Londen aan dié twee items deelneem en die IAAF het reeds bevestig dat hulle die program sodanig gaan aanpas dat hy dit sal kan doen.

Sy wedloop teen Simbine kan een van dié hoogtepunte wees.

Die voormalige rekordhouer, Henricho Bruintjies, en die nuutste toevoeging tot die atlete wat deur die 10 s-grens is, Thando Roto, is ingeskryf vir die 100 m. Roto spog met die wêreld se derde vinnigste tyd vanjaar, 9.95 s.

Anaso Jobodwana, bronsmedaljewenner in die 200 m by die Wêreldkampioenskap, en die nasionale juniorrekordhouer, Gift Leotlela, sal aan albei nommers deelneem.

Luvo Manyonga, SA se silwermedaljewenner in Rio, het verlede maand ʼn nasionale rekord van 8.62 m in die verspring opgestel. Hy kan goeie teenstand van die Afrika-kampioen, Rushwahl Samaai, die Statebond-silwermedaljewenner Zarck Visser en Dalon Cotter verwag – en ʼn nasionale rekord kan dalk die gevolg van die taai mededinging wees.

Caster Semenya, gouemedaljewenner by verlede jaar se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro,  sal nie al drie haar titels van verlede jaar se kampioenskap verdedig nie. Sy sal net in die 800 m en 400 m te siene wees en nie in die 1 500 m ook nie.

Die stryd in die 5 000 m en die 10 000 m tussen Elroy Galant en Stephen Mokoka, wat albei ervaring van ʼn Spele-eindwedloop het, behoort vir nog ʼn hoogtepunt te sorg.

Die mans-400 m-hekkies behoort ook ʼn taai wedloop af te gee. Die nasionale rekordhouer, LJ van Zyl, sal sake teen die Statebondkampioen, Cornel Fredericks, en ook die twee Olimpiese atlete, Le Roux Hamman en Lindsay Hanekom, moet uitspook.

Van Zyl gaan glo ook in die 400 m aantree.

Wat die vroue-naellope betref, verdedig Conley haar 100 m en 200 m-titels. Carina Horn en Tebogo Mamatu sal sekerlik goeie teenstand in die 100 m bied, maar in  die 200 m behoort Conley weer eerste oor die wenstreep te wees.

Die Wêreldkampioen-finalis in die 400 m-hekkies, Wenda Nel, het ook vir die 200 m ingeskryf.  Justine Palframan gaan net op die 400 m konsentreer.

Sunette Viljoen, silwermedaljewenner by Rio, behoort nie te sukkel om haar titel te verdedig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.