Aflosspan jag medalje in Japan

Emile Erasmus in aksie vir Tukkies. Foto: Reg Caldecott.

Emile Erasmus draai geen doekies om oor sy 4×100 m-aflosspan se kanse om ’n medalje by die komende Wêreldafloskampioenskap in Yokohama te wen nie.

En die doelwit is eenvoudig: Hulle sal vinniger as 38 s moet hardloop om vir ’n podiumplek in aanmerking te kom.

Die Tukkie-atleet was ’n lid van die Suid-Afrikaanse span wat tydens die Statebondspele in Australië met die silwer medalje weggestap het. Boonop het hulle toe ook die SA rekord na 38,24 s verbeter.

Erasmus is op pad om slegs die sesde Suid-Afrikaner te word om die 100 m onder 10 s kaf te draf – sy huidige beste tyd is 10,01 s.

“Om op die Wêreldkampioenskap-verhoog te presteer, moet ons 38 s draai. Dit gaan moeilik wees, maar beslis nie onmoontlik nie,” het Erasmus gesê.

Vanjaar het die Suid-Afrikaners ook meer as ’n groep aan hul aflosvaardighede geslyp.

“In die verlede het ons nooit werklik as ’n aflosspan geoefen nie. Ons het op die meeste ’n paar oorgee-sessies ’n dag voor die wedloop geoefen. Maar onder Paul Gorries se leiding het ons met ’n paar truuks vorendag gekom en ons het gekyk wat vir ons werk, en wat nie.”

Erasmus gaan dinge vir die span afskop, met Simon Magakwe (huidige SA 100 m-kampioen) wat die tweede been hardloop en Akani Simbine wat die span huis toe sal bring.

Wie die derde been gaan hardloop, is nog ’n ope vraag – Anaso Jobodwana en Chederick van Wyk is tans die voorlopers vir dié plek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Inkz ·

Mooi Mila, jou S-u-p-e-r-m-a-n!!!! Baie trots op jou!
Sterkte vir julle span ook, ons hou styf duim vas :)

Frank ·

Wayde hardloop ook mos sub 10’s? Laat hom die 3de been hardloop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.