Afsitpistool gaan weer eens nie by Comrades klap

Die Comrades-marathon. Foto: Facebook.

Die gewilde Comrades-ultramarathon is vir die tweede agtereenvolgende jaar weens die Covid-19-pandemie in die wiele gery.

Die Comrades-marathonvereniging (CMA) het die nuus vandag bevestig. Die wedloop was aanvanklik vir 13 Junie 2021 geskeduleer. Dit is slegs die tweede keer sedert die Tweede Wêreldoorlog dat organiseerders genoop word om só ’n drastiese stap te doen.

Volgens die CMA was dit ’n ongelooflik moeilike besluit en duisende atlete sal weer eens hul Comrades-drome moet laat vaar.

Die besluit is in samewerking met KwaZulu-Natal se atletiekbeheerliggaam, Atletiek Suid-Afrika, mediese kenners en die nasionale koronavirus-bevelsraad geneem. Faktore soos die deelnemers se veiligheid en gesondheid, asook ’n moontlike derde vlaag Covid-19-gevalle is in ag geneem.

“Te midde van die deurlopende onsekerheid wat die Covid-19-pandemie teweeggebring het, gepaard met die invloed wat dit op massasportgebeure het, bly ons atlete se belange ons hoofprioriteit,” het Cheryl Winn, CMA-voorsitter, gesê.

Die eerste Comrades-marathon is op 24 Mei 1921 aangepak en volgens die organiseerders sal die eeufeesviering vanjaar noodgedwonge ’n virtuele baadjie aantrek.

Die tweede virtuele marathon sal op 13 Junie plaasvind en op die sukses van verlede jaar se wedloop voortbou, toe amper 44 000 deelnemers van oor die hele wêreld se virtuele tekkies geklap het.

Gerda Steyn. (Foto: Comrades-marathon/Twitter)

“Ons kan ook bevestig dat die eeufeesviering amptelik op 24 Mei begin en ons nooi alle Suid-Afrikaners saam met die internasionale hardloopgemeenskap uit om deel te wees van Suid-Afrika én die wêreld se oudste en grootste ultramarathon.”

Die Comrades-teleurstelling volg kort op die nuus dat die Twee Oseane-marathon ook in die slag moet bly.

“Ons het onder koronavirusvlak 3 van die Rampbestuurwet voortgegaan met beplanning vir die Twee Oseane-marathon 2021 in verskillende formate en verminderde getalle volgens die beste praktyk wat die veiligheid van ons deelnemers sou verseker,” het die organiseerders in ’n verklaring gesê.

“Ons was deurlopend in gesprek met ons aandeelhouers, Atletiek Suid-Afrika en Westelike Provinsie Atletiek (WPA), en ons mediese span om die beste pad vorentoe te bepaal. Gelei deur aanbevelings van die mediese span en die hoof- mediese beampte van die Twee Oseane-marathon, dr. Adrian Rotunno, is ons egter jammer om aan te kondig dat die Twee Oseane-marathon, wat op 3 April 2021 sou plaasvind, gekanselleer moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Besef NIEMAND dan wat aan die kom is nie? Dit lyk my ons gaan ‘n “nuwe normaal” tegemoet wat lank, dalk dekades en dalk totaal permanent gaan duur. Dié nuwe normaal is ‘n lewe SONDER:
kerke, sportbyeenkomste, Olimpiese Spele, musiekfeeste, kunstefeeste, operas, dansplekke, rolprentteaters, toerisme, buitelandse reise, ens ens. My lys is eintlik BAIE langer. Corona is basies soos die impak van die Tweede Wêreldoorlog op Duitsland en Japan, of soos die impak al die Oos-Europese lande wat na 1945 skielik, oornag, kommunisties geword het. Skielik was kerk toe gaan verbode en het privaatbesit en kapitalisme verdwyn.

Mad Mike die Rhodesiër

Wat van ‘n virtuele marathon soos die Twee Oseane? Dis beter as om geen marathon te hou!