Atlete gee Parkies beste verjaardaggeskenk

Coleen Scheepers van Die Hoërskool Menlopark het drie rekords verbeter. Foto: Reint Dykema/PhotoFoto.

Wanneer ʼn skool ʼn mylpaalverjaardag vier, is dit altyd lekker wanneer sy sportsterre vir ʼn kersie-op-die-koekvertoning sorg.

En dit is presies wat die Hoërskool Menlopark die afgelope naweek gekry het toe sy atletiekspan vir die 21ste keer op ʼn streep die A-bondinterhoërbyeenkoms vir Pretoriase skole op Pilditch gewen het.

Die skool, wat vanjaar 60 jaar oud is, het 2 627,5 punte op die algehele punteleer bymekaargemaak; amper 350 punte meer as Hoërskool Waterkloof in die tweede plek.

Die atlete is behoorlik aangemoedig! Foto: Reint Dykema/PhotoFoto.

Parkies se meisies het boonop ook die septer in hul afdeling geswaai, terwyl die Afrikaanse Hoër Seunskool op ʼn drafstap met die louere in die seunsafdeling weggestap het.

ʼn Rits rekords is ook op die dag verbeter met Menlopark se Coleen Scheepers (o.17) wat met drie splinternuwe rekords agter haar naam spog.

Wanneer volgende jaar se byeenkoms-brosjure gedruk word, sal haar naam langs die vinnigste tye in die 100 m (12,07 sekondes), 200 m (24,09 sekondes) en 400 m (55,04 sekondes) staan.

Timeke Coetzee kyk wat is haar amptelike afstand. Foto: Reint Dykema/PhotoFoto.

Ander atlete met twee rekords agter hul name is Afrikaanse Hoër Meisieskool se Timeke Coetzee (verspring 6,52 m en driesprong 12,43 m vir o.17-meisies), asook Parkies se Alicia Khunou (diskus 48,63 m en gewigstoot 6,36 m, óók vir o.17-meisies).

Verdere spogprestasies sluit Emile Els van Affies se 1 500 m-lopie vir o.14-seuns in waar hy die bestaande rekord met meer as tien sekondes verbeter het, terwyl Chris Swanepoel ook met sy diskuspoging van 60,34 m uitgeblink het.

Reint Dykema van PhotoFoto was daar om die aksie vas te vang.

Algehele puntestand:

  1. Hoërskool Menlopark: 2 627,5 punte
  2. Hoërskool Waterkloof: 2 281,5 punte
  3. Hoërskool Zwartkop: 2 205 punte
  4. Hoërskool Montana: 1 936 punte
  5. Hoërskool Garsfontein: 1 870 punte
  6. Midstream College: 1 737 punte
  7. Afrikaanse Hoër Seunskool: 1 455 punte
  8. Afrikaanse Hoër Meisieskool: 1 342 punte
  9. Prestige College: 1 291 punte

Daar was ongeveer 15 000 toeskouers op Pilditch. Foto: Reint Dykema/Photo/Foto.

Finale puntestand – meisies:

  1. Hoërskool Menlopark: 1 397,5 punte
  2. Afrikaanse Hoër Meisieskool: 1 342 punte
  3. Hoërskool Waterkloof: 1 165 punte
  4. Hoërskool Zwartkop: 1 154 punte
  5. Hoërskool Montana: 958 punte
  6. Hoërskool Garsfontein: 953 punte
  7. Midstream College: 771,5 punte
  8. Prestige College: 635 punte

Foto: Reint Dykema/PhotoFoto.

Finale puntestand – seuns:

  1. Afrikaanse Hoër Seunskool: 1 455 punte
  2. Hoërskool Menlopark: 1 230 punte
  3. Hoërskool Waterkloof: 1 116,5 punte
  4. Hoërskool Zwartkop: 1 051 punte
  5. Hoërskool Montana: 978 punte
  6. Midstream College: 965,5 punte
  7. Hoërskool Garsfontein: 917 punte
  8. Prestige College 656 punte

Foto: Reint Dykema/PhotoFoto.

Toekennings:

Senior victrix ludorum: Alicia Khunou (Hoërskool Menlopark)

Junior victrix ludorum: Megan Nieman (Hoërskool Menlopark)

Senior victor ludorum: Hencu Lamberts (Afrikaanse Hoër Seunskool)

Junior victor ludorum: Chris Swanepoel (Hoërskool Menlopark)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

Fantastiese prestasies deur ‘n topskool – in sport en op akademiese gebied! Doen so voort, Menlo! En geluk met die 60ste verjaardag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.