Atlete laat waai in Germiston

’n Argieffoto van Ferdinand Omanyala (Foto: GB Jordaan).

Die tweede byeenkoms van Atletiek Suid-Afrika (ASA) se Grand Prix-reeks het Woensdag in Germiston plaasgevind en van die bekendste atlete het oudergewoonte hul spiere gebult.

Ferdinand Omanyala – Afrika se vinnigste naelloper – het die 100 m in ʼn tyd van 10.05 sekondes kafgedraf. Cheswill Johnson was die voorste Suid-Afrikaanse atleet in die lopie met sy tyd van 10.37 sekondes.

Een van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) se blinkste sterre, Eckhart Potgieter, het sy staal in die 200 m gewys toe hy die item met sy tyd van 20.54 sekondes gewen het.

Potgieter was destyds saam met Bjorn van Wyk, André Erasmus en Joshua Nel lid van Affies se gedugte 4×100 m-aflosspan wat met ʼn manjifieke tyd van 40.51 sekondes in Roodepoort geseëvier het.

In die vroueafdeling het Zenéy van der Walt goud in die 400 m-hekkies gesmaak toe sy die lopie in ʼn tyd van 55.28 sekondes gewen het.

Sy het by die eerste byeenkoms in Pretoria vir die Wêreldkampioenskap in die plat 400 m gekwalifiseer.

Dan het Marioné Fourie vir die 16de keer op ʼn streep vir haar teenstanders in ʼn plaaslike wedloop hakskene gewys. Die 20-jarige atleet het die 100 m-hekkies met ʼn tyd van 13.00 sekondes gewen.

“Ek werk baie hard om die Suid-Afrikaanse rekord te verbeter en om onder die voorste atlete ter wêreld in my item te tel,” het sy vroeër vir Maroela Media gesê.

In die hamergooi-item is Leandri Geel so te sê onstuitbaar. Sy het met haar gooi van 66.11 meter haar eie Suid-Afrikaanse rekord verbeter.

  • Eerste plekke in Germiston

100 m (mans): Ferdinand Omanyala – 10.05 sekondes

200 m (mans): Eckhart Potgieter – 20.54 sekondes

400 m (mans): Gardeo Isaacs – 45.30 sekondes

800 m (mans): Boitumelo Masilo – 1:47.21 minute

110 m-hekkies (mans): SW Nel – 13.91 sekondes

400 m-hekkies (mans): Sokwakhana Zazini – 49.54 sekondes

Hoogspring (mans): Brian Raats – 2,15 meter

Diskus (mans): Victor Hogan – 62,48 meter

100 m (vroue): Reabetswe Moloi – 11.65 sekondes

200 m (vroue): Taylon Bieldt – 23.50 sekondes

400 m (vroue): Marlie Viljoen – 51.81 sekondes

800 m (vroue): Charné Swart – 2:04.74 minute

100 m-hekkies (vroue): Marioné Fourie: 13.00 sekondes

400 m-hekkies (vroue): Zenéy van der Walt: 55.28 sekondes

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.