Atlete vinnig op volle vaart!

Clarence Munyai en Anaso Jobodwana. Foto: Roger Sedres/Gallo Images/ANA

Die nuwe Grand Prix Atletiek-reeks het Donderdagaand met die eerste byeenkoms by die Ruimsig-atletiekstadion in Roodepoort afgeskop.

Die 200 m vir mans is deur Anaso Jobodwana gewen toe hy die junior kampioen, Clarence Munyai, geklop het. Jobodwana se tyd was 20.13 sekondes. In die tweede plek was Munyai in 20.18 sekondes met Luxolo Adams derde in 20.45 sekondes.

Die res van die aand in Ruimsig is hoofsaaklik oorheers deur atlete uit die res van Afrika wat almal voorberei vir die Statebondspele in April.

Suid-Afrika se Tebogo Mamamtu was baas in die 100 m vir vroue met ʼn tyd van 11.47 sekondes. Lynique Beneke het die vroue-verspring met ʼn sprong van 6.33 m verower. In die gewigstoot vir vroue het Meike Strydom geseëvier met ʼn poging van 15.96 m terwyl Kayle Blignaut die mansitem met ʼn poging van 19.19 m verower het.

Mpho Links het die hoogspring vir mans met ʼn hoogte van 2.20 m gewen. Die 18-jarige junior wêreldkampioen, Breyton Poole, het op 2.15 m geslaag. Yvonne Robson het die vroue-hoogspring op ʼn hoogte van 1,75 m gewen.

Die 400 m-mansitem is deur Botswana se Isaac Makwala in ʼn tyd van 45.05 sekondes gewen. Thapelo Phora was tweede in 45.39 met Pieter Conradie derde in 45.77 sekondes. Dai Green het LJ van Zyl in die 400 m-hekkies geklop. Die mans se 1 500 m-wedloop is deur Kenia se George Manangoi gewen.

Die Grand Prix-reeks se volgende byeenkoms is aanstaande Donderdag 8 Maart in Pretoria. Die wêreld se 100 m-kampioen, Justin Gatlin, het bevestig dat hy aan die 150 m-wedloop in Pretoria sal deelneem. Die derde en finale byeenkoms word op 22 Maart in die Paarl aangebied. Die prysgeld vir die drie byeenkomste beloop R1 365 000.

Kaartjies vir die byeenkomste is aanlyn te koop. http://www.webstickets.co.za/

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.