Atlete wys hul staal in Germiston

Luvo Mayonga. Foto: ANA.

’n Paar atlete het skittervertonings by Atletiek Suid-Afrika (ASA) se Senior Baan-en-Veldkampioenskap in Germiston gelewer.

Verdedigende 400 m-hekkieskampioen, Lindsay Hanekom, het gewys hy is weer gereed vir aksie toe hy die finaal van dié item in ’n tyd van 48.81 s gewen het.

In die proses het hy die 49-sekondkerf vir die eerste keer gebreek, terwyl die junior wêreldkampioen, Sokwakhana Zazini (49.33 s) en Cornel Hendricks (49.87 s) onderskeidelik tweede en derde geëindig het.

“Ek wou bitter graag ’n persoonlike beste hier gehardloop het omdat ek ’n tyd van sub-49 sekondes al vir die afgelope drie jaar jaag,” het ’n tevrede Hanekom gesê.

Die gewigstoot-atleet, Orazio Cremona, het ook die wenkbroue gelig met ’n reusegooi van 21.51 m, amper 40 cm verder as sy vorige beste gooi van 21.12 m.

Terug op die baan het Akani Simbine die 200 m met ’n wentyd van 20.27 s kafgedraf. Hy het op langer naellope vroeg in die seisoen gekonsentreer om sy uithouvermoë te verbeter, maar al die aandag sal op die 100 m wees vir die IAAF Wêreldkampioenskap later vanjaar in Doha.

“My oefensessies loop tans seepglad en ek is tevrede met my voorbereiding sover,” het Simbine gesê. Sy volgende kuipstop is in Japan vir die Wêreldafloskampioenskap op 12 en 13 Mei in Yokohama.

Dit was ’n taai stryd in die mansverspringitem, met Luvo Manyonga wat uiteindelik die goue medalje verower het met sy sprong van 8.35 m. Tweede was Ruswahl Samaai (8.21 m) en derde was Zarck Visser (8.01 m).

“Dit was my eerste kompetisie van die jaar, dus is ek doodtevrede met my vertoning,” het Manyonga gesê.

Sunette Viljoen het haar 13de SA spiesgooititel verower, te danke aan ’n sterk gooi van 57.23 m.

Onder die ander hoogtepunte is Prudence Sekgodiso se 800 m-wentyd van 2:05:06, terwyl Zeney van der Walt hakskene in die 400 m-hekkies gewys het om te wen in ’n tyd van 55.93 s.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gemaskerde Sopbeen

Weet die minister van sport hiervan? ASA is dan die een department wat NIE sy kwota teikens gehaal het nie? So wat nou? Gaan hierdie atlete se prestasie geskrap word…en NET swart atlete se prestasies gehou word?

SHL

Kom ons wees eerlik, behalwe in een of twee items, is daar verder absoluut geen internasionale standaard atlete meer nie. Baie redes kan aangevoer word maar by almal sal die vinger direk na die regering se politieke inmenging by sport wys. Alles is veronderstel om op skole vlak te begin maar in die meeste gevalle gebeur daar niks wat afrigting of ontwikkeling aanbetref nie. In ander gevalle het skole en afrigters so negatief teenoor die sport geword dat daar vandag bykans geen werklike kundige afrigters meer oor is of jonges na vore tree. In plaas dat die regering van die… Lees meer »