Atletiek: Alle oë op spronge in Parys

Akani Simbine in aksie. Foto: AP Photo/Mark Schiefelbein

Die sewende Diamantliga-byeenkoms vind Saterdag (30 Junie) in Parys plaas.

Die fokus gaan veral op die spronge wees wanneer die wêreld se voorste atlete mekaar takel. Die sprongnommers op die program is paalspring vir mans, asook die hoogspring en driesprong vir vroue.

Vir Suid-Afrika is die fokus op die 800 m waar Caster Semenya gaan poog om haar onoorwonne status vir 2018 te behou. Tydens die vyfde byeenkoms in Oslo het Caster Semenya in die 800 m vir vroue haar tweede goue medalje in vanjaar se reeks losgehardloop. Caster het geseëvier in ʼn tyd van 1:57.25.

Ander Suid-Afrikaners wat hul staal in Parys gaan toon, sluit in Akani Simbine in die 100 m vir mans en Antonio Alkana in die 110 m-hekkies.

Die drie topmans in paalspring van 2018 sal almal Saterdag in aksie wees. Daarmee saam sal die huidige wêreldkampioen asook die Olimpiese kampioen aan die paalspring deelneem. Die Fransman, Renaud Lavillenie, sal as die gunsteling aantree. Die Fransman spog met die beste hoogte van 5.95 m wat hy tydens die byeenkoms in Texas behaal het.

In die hoogspring vir vroue het drie atlete vanjaar reeds hoër as 2 m gespring. Mariya Lasitskene kon in 43 agtereenvolgende kompetisies nie geklop word nie. Mariya het vanjaar reeds 2.03 m aangeteken.

In die driesprong vir vroue sal die koningin van die item, Caterine Ibarguen (Olimpiese- en dubbele Wêreldkampioen), te doen kry met die jong sensasie uit Amerika, Tori Franklin. Tori het op 12 Mei ʼn afstand van 14.84 m behaal.

Die byeenkoms begin Saterdag om 18:40 en eindig om 21:53 in Parys.

Die reeks van twaalf byeenkomste en die twee eindrondes eindig op 30 Augustus.

Meer inligting is hier beskikbaar.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.