Atletiek: Caster bly die koningin van die 800 meter

Caster Semenya. Foto: AP Photo/Mark Schiefelbein

Die vyfde byeenkoms in die Diamantliga-reeks is Donderdag in Oslo aangebied. Die byeenkoms was deel van die Bislett Spele. Twee Suid-Afrikaners het Suid-Afrika in Noorweë verteenwoordig naamlik Carina Horn en Caster Semenya.

In die 800 m vir vroue het Caster Semenya haar tweede goue medalje in vanjaar se reeks losgehardloop en nog agt punte in die reeks verdien. Tydens die vorige byeenkoms in Eugene het Caster ʼn tyd van 1:55.92 aangeteken. Donderdag in Oslo het Caster geseëvier in ʼn tyd van 1:57.25. Burundi se Francine Niyonsaba was tweede in 1:58.57 en Ethiopië se Habitam Alemu derde in 1:58.58.

Caster spog ook reeds in die reeks met ʼn goue medalje in die 1 500 meter.

In die 100 m vir vroue het Suid-Afrika se Carina Horn voor die wedloop met die derde vinnigste tyd die seisoen (10.98 sekondes) gespog. Carina Horn was in Oslo egter sesde in die 100 m in ʼn tyd van 11.22 sekondes. Die wedloop is deur Murielle Ahourè in 10.91 sekondes gewen.

Die droommylwedloop is deur Elijah Motonei Manangoi gewen. Sy tyd was 3:56.95 met Sadik Mikhou tweede in 3:57.10.

Die volgende byeenkoms word Sondag (10 Junie) in Stockholm aangebied. Luvo Manyonga en Ruswahl Samaai sal in die verspring weer hul staal toon. Carina Horn sal in die 100 m in aksie wees terwyl Luxolo Adams in die blokke sal sak vir die 200 meter.

Die reeks van twaalf byeenkomste en twee finale eindig op 30 Augustus.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Goeie werk ·

Goeie werk Caster, doen so voort, ons is trots op jou!

LHS ·

Van wanneer af is die hersiene IAAF reel oor hormoonvlakke van toepassing?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.