Atletiek: Caster is een van die groot trekpleisters

Caster Semenya. Foto: Karwai Tang/ANA

Die twaalfde Diamantliga-byeenkoms word Saterdag (18 Augustus) in die Alexander Stadion in Birmingham aangebied. Daar is veertien byeenkomste in die 2018-reeks.

Verskeie Suid-Afrikaners sal Saterdag in aksie wees. Die uitstaande Suid-Afrikaanse atleet in vanjaar se reeks was Caster Semenya. Die drievoudige wêreldkampioen en dubbele Olimpiese-kampioen, Semenya, het haar stempel behoorlik afgedruk in die 800 m asook 1 500 m-wedlope in vanjaar se reeks.

Sy het vier keer goud in die 800 m gewen (Parys, Monaco, Oslo en VSA). In Parys het Caster haar Suid-Afrikaanse rekord verbeter tot 1 minuut 54.25 sekondes. In die 1 500 m het sy eerste geëindig in Doha. Dit is ook die baannommer waaraan Caster Saterdag in Birmingham sal deelneem.

Die ander Suid-Afrikaners wat hul staal sal toon, sluit in Antonio Alkana in die 110 m-hekkies vir mans. Antonio spog met ʼn tyd van 13.31 sekondes. Die gunsteling in die wedloop is Ronald Levy van Jamaika wat dié jaar spog met ʼn tyd van 13.13 sekondes.

In die verspring vir mans sal twee Suid-Afrikaners aantree. Luvo Manyonga (8.58 m) en Zarck Visser (8.40 m)

Die vinnigste man in die wêreld vir oor die 100 m en 200 m in 2018, Noah Lyles (VSA), sal te doen kry met Suid-Afrika se Akani Simbine (9.93).

Ander Suid-Afrikaners op die inskrywingslys is Wenda Nel (400 m-hekkies vir vroue) en Dominique Scott (3 000 m vir vroue).

Die byeenkoms begin om 13:00 en eindig om 15:53. Die veldnommers wat aangebied word, is:

Mans: 100 m, 110 m- hekkies, 400 m, 800 m, 3 000 m-hindernis, verspring, hoogspring en spiesgooi.

Vroue: 200 m, 400 m, 100 m-hekkies, 400 m-hekkies, 1 500 m, 3 000 m, verspring, gewigstoot en paalspring,

Ná Saterdag bly daar net die twee eindbyeenkomste in die reeks oor. Die byeenkomste word in Zürich en Brussel aangebied.

Meer inligting is hier beskikbaar.

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ag toe nou trekpleister ·

…dis nou nie asof jy in ELK geval Birmingham toe sou gaan nie ne!

LHS ·

Geniet elke oomblik van glorie terwyl jy kan, 1 November is om die draai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.