Atletiek: Caster jaag nóg goud

Caster Semenya. Foto: AP Photo/Mark Schiefelbein

Die vyfde byeenkoms in die Diamantliga-reeks word Donderdag in Oslo in Noorweë aangebied.

Die byeenkoms vorm deel van die Bislett Spele. Suid-Afrika sal in Noorweë deur drie atlete verteenwoordig word, naamlik Sunette Viljoen, Carina Horn en Caster Semenya.

Tydens die vorige byeenkoms van die Diamantliga-reeks, in Rome, het Luvo Manyonga en Rushwal Samaai onderskeidelik goud en brons in die verspring vir mans gewen.

Verskeie topprestasies is oor die jare in dié bekende Atletiekstadion in Oslo gelewer. Vanjaar sal daar nie minder nie as agt Olimpiese goue medalje-wenners in aksie wees.

In die spiesgooi vir vroue sal Duitsland se Christin Hussong (66.36 m in 2018) en China se Huihui Lyu (67.69 m) die atlete wees wat geklop moet word. Suid-Afrika se Sunette Viljoen sal ook in aksie wees en sy spog weliswaar met die beste persoonlike afstand van al elf gooiers (69.35 m). Vanjaar kon Sunette egter nog net 62.46 m gooi.

Onder die deelnemers aan die 100 m vir vroue spog Suid-Afrika se Carina Horn met die derde vinnigste tyd dié seisoen (10.98 sekondes). Blessing Okagbare-Ighoteguonor van Nigerië en Murielle Ahourè het die seisoen beide ʼn tyd van 10.90 sekondes aangeteken.

Die fokus sal egter op die 800 m vir vroue wees waar Caster Semenya die geleentheid sal kry om haar tweede goue medalje in vanjaar se reeks in dié nommer los te hardloop. Caster het reeds tydens byeenkoms nommer drie in Eugene ʼn tyd van 1:55.92 aangeteken. Sy spog ook reeds in die reeks met ʼn goue medalje in die 1 500 m.

Die byeenkoms in Oslo begin Donderdag om 18:00 met die spiesgooi vir vroue en die byeenkoms word om 21:50 afgesluit met die droommylwedloop vir mans.

Die reeks van twaalf byeenkomste en twee eindrondes eindig op 30 Augustus.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.