Atletiek: Groot geld en diamant-trofee vir elke wenner

Luvo Manyonga tydens ‘n vorige geleentheid (Foto: IAAF)

Die twee finale byeenkomste van die Internasionale Diamantliga-reeks word Donderdag en Vrydag (30 en 31 Augustus) aangebied. Dit sal die 13de en 14de byeenkomste van die seisoen wees en word onderskeidelik in Zürich en Brussel gehou. Die room van die wêreld se atlete sal mekaar die stryd aansê.

Daar word 32 items tydens die seisoen se 12 byeenkomste aangebied. Sommige items word ses keer en die ander vier keer by die 12 kwalifiseringsbyeenkomste aangebied. Atlete verdien 8 punte vir ʼn eerste plek tot by 1 punt vir die agtste posisie. Net die topatlete kwalifiseer dus vir dié week se twee finale byeenkomste.

Verskillende items sal by die twee finale aangebied word wat die wenners in elke item vir die reeks sal bepaal. Die wenner van elke item ontvang $50 000 en ʼn diamant-trofee.

Tydens Donderdag se byeenkoms in Zürich sal ses Suid-Afrikaners in aksie wees. Die byeenkoms begin 18:35 en eindig om 22:10 met die sluitingseremonie.

  • In die 800 m vir vroue is Caster Semenya die enigste atleet wat reeds vanjaar onder 1:55.00 kon aanteken. Haar beste tyd is 1:54.25.
  • In die verspring vir mans sal Luvo Manyonga (8.58 m) en Ruswahl Sanaai (8.42 m) hul stemme behoorlik dik maak.
  • In die 400 m-hekkies vir vroue spog Wenda Nel (54.61) met die vierde beste tyd die seisoen.
  • Pieter Conradie (45.49) sal sy staal toon in die 400 m vir mans.
  • In die 200 m vir mans sal Luxolo Adams (20.01) in die blokke sak.
  • Cornel Fredericks (49.30) sal aan die laaste item by die byeenkoms deelneem, naamlik die 400 m-hekkies vir mans.

Net ʼn dag later verskuif die aksie na Brussel vir die 14de byeenkoms. Net een Suid-Afrikaner sal hier aantree. Die byeenkoms begin om 18:00 en eindig om 22:00.

  • In die 100 vir mans sal Akani Simbine (9.93) te doen kry met Ronnie Baker van die VSA wat dié seisoen reeds ʼn tyd van 9.87 sekondes opgestel het.

Ná Vrydag sal ons weet watter atlete is as wenners van die Diamantliga-reeks van 2018 gekroon.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.