Atletiek: Nog goud vir Caster en Suid-Afrika

Caster Semenya. Foto: AP Photo/Mark Schiefelbein

Die derde byeenkoms in die Diamantliga-reeks is Saterdag in Eugene, in die VSA, aangebied. Caster Semanya het haar derde goue medalje van die reeks verower toe sy goud vir Suid-Afrika in die 800 m gewen het. Caster het weer ʼn tyd van onder twee minute aangeteken en boonop die vinnigste tyd dié jaar behaal.

Semenya se tyd was 1 minuut 55.92 sekondes. Amerika se Ajee Wilson het tweede geëindig in 1:56.86. Dit was Semenya se tweede oorwinning in die 800 m in vanjaar se reeks. Tydens die vorige byeenkoms het sy ʼn nuwe nasionale rekord en haar persoonlike beste tyd van 3:59.92 in die 1 500 m aangeteken.

Twee ander Suid-Afrikaners was ook in Amerika in aksie.

Anaso Jobodwana het vierde in die 200 m geëindig in ʼn tyd van 20.42 sekondes. Dominique Scott-Efurd het haar persoonlike beste tyd in die 5 000 m aangeteken en was agtste in haar wedloop. Haar tyd was 15 min 10.23 sekondes.

Die vierde been van die reeks word komende Donderdag in Rome aangebied. Die reeks van 14 byeenkomste eindig in Augustus.

Meer inligting is hier beskikbaar. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.