Atletiek: Nog rekords vir SA

Carina Horn. Foto: Reg Caldecott/ANA

Die eerste twee Diamantliga-byeenkomste het twee splinternuwe SA rekords en twee goue medaljes vir Suid-Afrika opgelewer.

Tydens die eerste byeenkoms in Doha het twee Suid-Afrikaners nasionale rekords opgestel. Carina Horn het in die 100 m vir vroue ʼn SA rekord van 10.98 sekondes aangeteken. Caster Semenya het in die 1500 m vir vroue ʼn tyd van onder vier minute behaal. Caster het daarmee ook die nasionale-rekord verbeter en haar persoonlike beste tyd van 3:59.92 aangeteken.

Tydens die tweede van veertien Diamantliga-byeenkomste in Sjanghai het Suid-Afrika se verspringkoning, Luvo Manyonga, die aandag getrek. Manyonga, wat die huidige Wêreldkampioen is, het met goud in die verspring vir mans weggestap toe hy die beste afstand vir 2018 in die wêreld aangeteken het. Luvo het in die 6de ronde van die kompetisie ʼn afstand van 8,56 meter gespring om die goue medalje syne te maak.

Nou lê die derde byeenkoms Saterdag in Eugene, Oregon in die VSA voor. Alle oë is op Caster Semenya wat aan die 800 m sal deelneem. Caster sal poog om weer ’n tyd van onder die twee minute aan te teken.

Daar kan ook opwinding verwag word in die 100 m vir vroue en die hoogspring vir mans.

Die gelyste nommers vir die mans is: 200 m, 110 m-hekkies, 3000 m-hindernis, hoogspring, driesprong, gewigstoot en spiesgooi.

Die nommers vir vroue sluit in die 100 m, 400 m, 800 m, 1500 m, 5000 m, 400 m-hekkies asook paalspring.

Die derde been van die Diamantliga-reeks begin Vrydagaand net ná 18:30 en die laaste nommer sal Saterdag net voor 15:00 afgehandel wees. Die reeks van veertien byeenkomste duur tot in Augustus.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.