Atletiek: Ons verspringers stel teleur

Luvo Manyonga tydens ‘n byeenkoms in 2017 (Foto: Erik van Leeuwen, Wikipedia)

Die sesde byeenkoms in die Diamantliga-reeks is Sondag in Stockholm, Swede aangebied. Vier Suid-Afrikaners was in aksie. Luvo Manyonga en Ruswahl Samaai in die verspring, Carina Horn in die 100 m en Luxolo Adams in die 200 meter. Die viertal kon net twee bronsmedaljes inoes.

Ons verspringers het teleurgestel. Luvo Manyonga het derde in die verspring geëindig en kon net 8.25 m met sy beste sprong aanteken. Ruswahl Samaai was vierde met 8.20 m. Die wenner was die Kubaan, Juan Miguel Echevarria, wat met ʼn reusesprong van 8.83 m geseëvier het. Jeff Henderson (VSA) was tweede (8.39 m).

In die 100 m vir vroue het Suid-Afrika se Carina Horn onderskeidelik vyfde en sesde in die vorige byeenkomste geëindig. Sondagaand het sy weer sesde oor die eindstreep gehardloop. Carina se tyd was 11.29 sekondes.

Luxolo Adams het in die 200 meter in die blokke gesak teen ʼn paar van die groot kanonne in die naelloop-wêreld. Adams het uitstekend gevaar en ʼn bronsmedalje los gehardloop. Sy tyd was 20.36 sekondes. Die wedloop is deur Ramil Guliyev van Turkye gewen. Sy tyd was 19.92 sekondes.

Tydens die vyfde byeenkoms in Oslo (Donderdag) het Caster Semenya in die 800 m vir vroue haar tweede gouemedalje in vanjaar se reeks los gehardloop. Caster het geseëvier in ʼn tyd van 1:57.25 sekondes.

Die volgende byeenkoms word op 30 Junie in Parys aangebied. Die reeks van twaalf byeenkomste en twee finale eindig op 30 Augustus.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.