Atletiek: Twee medaljes vir Suid-Afrika

Luvo Manyonga in aksie. Argieffoto: ANA via IAAF

Die vierde byeenkoms in die Diamantliga-reeks is Donderdag in Italië afgehandel.

Die aksie was in die Olimpiese Stadion in Rome. Suid-Afrika is deur drie atlete verteenwoordig en hulle het altesaam twee medaljes ingeoes.

Die byeenkoms sal onthou word vir sewe atlete wat die beste prestasie vir die seisoen behaal het asook een Diamantliga-rekord wat verbeter is. Katar se Abderrahman Samba het gesorg vir die rekord in die 400 m-hekkies vir mans. Sy tyd was 47.48 sekondes.

In die verspring vir mans het die twee Suid-Afrikaners, Luvo Manyonga en Ruswahl Samaai, vroeër die seisoen die kollig gesteel en hulle het weer hul stempel afgedruk.

Manyonga het met die goue medalje weggestap en boonop die beste afstand in die wêreld vir 2018 behaal. Manyonga se wensprong was 8.58 m. Dit is 2 cm beter as sy vorige beste afstand die jaar. Manyonga het die afstand met sy tweede sprong van die kompetisie aangeteken. Sy sesde sprong se afstand was 8.41 m, wat sy naasbeste vir die aand was.

Juan Echevarria van Kuba was tweede in die verspring (8.53 m). Ruswahl Samaai van Suid-Afrika het die bronsmedalje verower met ʼn sprong van 8.34 m.

In die 100 m vir mans het Suid-Afrika se Akani Simbine vyfde geëindig in 10.13 sekondes. Die Amerikaner Ronnie Baker was die enigste atleet wat ʼn tyd van onder 10 sekondes kon behaal. Sy tyd was 9.93 sekondes. Jimmy Vicaut was tweede in 10.02 en Filippo Tortu derde in 10.04 sekondes.

Die volgende byeenkoms word aanstaande Donderdag (7 Junie) in Oslo aangebied. Die reeks van 12 byeenkomste en twee finale rondes eindig op 30 Augustus.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.