Atletiek: Wat van nog ʼn Suid-Afrikaanse rekord?

Wenda Nel. Foto: AP Photo/Mark Schiefelbein

Die tweede van veertien Diamantliga-byeenkomste word Saterdag 12 Mei in Sjanghai aangebied. Die nommers wat by die onderskeie byeenkomste aangebied word, verskil van mekaar. Daar sal dus dié week ander Suid-Afrikaners in aksie wees as verlede week.

Tydens die eerste byeenkoms verlede week in Doha het twee Suid-Afrikaners groot sukses behaal deur nuwe nasionale rekords op te stel. Carina Horn het in die 100 m vir vroue ʼn nuwe SA-rekord daargestel toe sy deur die 11 sekonde-merk gebars het. Carina se SA-rekord staan nou op 10.98 sekondes. Caster Semenya het in die 1 500 m vir vroue ʼn tyd van onder vier minute aangeteken. Caster het daarmee ook die nasionale rekord laat spat en haar persoonlike beste tyd van 3:59.92 daargestel.

Dié week sal vier Suid-Afrikaners hul staal by die tweede byeenkoms van die reeks toon.

Die grootste trekpleister is sekerlik die verspringer Luvo Manyonga (8,41 m in 2018). Die enigste deelnemer by Saterdagaand se byeenkoms wat vanjaar al verder as Luvo kon spring, is die Amerikaner Jeff Henderson (8,44 m). Manyonga hou die byeenkomsrekord van 8,61 m.

Sunette Viljoen (Foto: AP/Dita Alangkara)

Wenda Nel sal in die 400 m-hekkies ʼn goeie kans staan om met haar beste tyd van 54.61 sekondes ʼn medalje dié seisoen los te hardloop. Nel se grootste teenstand sal kom van Janieve Russell van Jamaika wat die seisoen al 54.01 sekondes aangeteken het. Wenda se wedloop is om 13:03.

Suid-Afrika se spiesgooier, Sunette Viljoen (62,46 meter), sal heelwat beter as haar vorige pogings die jaar moet vaar om op die wennerspodium te wees. Drie van haar teenstanders het vanjaar al die 65 m-merk verbygesteek.

In die 800 m vir mans sal Rynhardt van Rensburg onder groot druk wees van nie minder nie as drie atlete uit Kenia. Van Rensburg se beste tyd dié seisoen is 1:46.15. Botswana se Isaac Makwala is die gunsteling in die 400 m vir mans. Hy spog vanjaar met ʼn tyd van 44.35 sekondes.

Die byeenkoms begin skuins voor 13:00 Suid-Afrikaanse tyd en eindig net voor 15:00.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.