Blikkies, maar hy kan hardloop!

Morné Green. Foto: Verskaf.

Toe die Fransman Elisha Nochomovitz ’n volle marathon van 42,2 km op sy balkon in Toulouse in ’n tyd van 6:48 gehardloop het, het hy waarskynlik nie geweet dat hy soveel ander atlete sou inspireer nie.

Weens Covid-19-afsonderingstydperke wat regoor die wêreld ingestel is, moes talle drawwers noodgedwonge die pad vir die balkon of tuin verruil.

Hier in Suid-Afrika het Morné Green nie net verder (45 km) en vinniger (5:44:37) as die Fransman op sy balkon gehardloop nie, maar sommer ook ’n liefdadigheidsprojek van stapel gestuur.

Die Nelspruit-inwoner het die Community Can Challenge-projek ná sy epiese drafsessie begin.

Die blitsige Laeveldse samaritaan help minderbevoorregtes deur ’n skenking van een blikkie kos te vra vir elke tree wat hy gedurende sy balkon-marathon gegee het. En hy het 49 902 treë gegee.

“Dit was ’n mal uitdaging en ek was poegaai ná die tyd,” het Green vanoggend aan Maroela Media gesê.

Hy het meer as 3 000 rondes op sy balkon gehardloop. Foto: Verskaf.

Tog het hy nooit gedink dat sy heen-en-weer-balkondrafsessie soveel aandag sou geniet nie; óf dat sy liefdadigheidsprojek so gewild sou wees nie.

“Ons het al skenkings uit Engeland, Australië en Nieu-Seeland gekry, terwyl vlieëniers gesê het dat hulle die kos gratis vir ons sal vervoer.”

Green het hande met Penryn College gevat en die publiek kan óf geld in die skool se Penreach-liefdadigheidsrekening inbetaal, óf hul blikkiekos-skenkings by spesiale punte in Nelspruit afgee.

“As jy byvoorbeeld jou blikkies by The Grove-winkelsentrum gekoop het, neem ’n foto van jouself saam met die kos of die betaalstrokie en laai dit op ons Facebook-blad. Onthou dat een blikkie gelykstaande aan een tree is. As jy dan die meeste ‘treë’ teen die einde van die afsonderingstydperk gegee het, sal jy ’n spesiale prys ontvang.”

Volgens Green was die 3 462 rondes op sy balkon ’n taai stryd gewees.

“ʼn Mens word ’n bietjie mal. Ek dink ek kon in ’n stadium seker so 20 rondes met my oë toe gehardloop het; jy weet naderhand presies waar alles is. Maar ek het gereeld video-telefoonoproepe van vriende ontvang en dit het my baie gehelp.

“Anders as met normale padwedlope kom jy glad nie in ’n ritme op jou balkon nie. Jy moet die heeltyd rem en dan omdraai en dít eis maar sy tol op jou knieë. Ek is nogal bly die draf-gedeelte is iets van die verlede.”

Die Pretorius-gesin het ook ’n skenking vanuit Australië gemaak. Foto: Facebook.

As hy egter 49 902 blikkies ingesamel het, kan jy egter nóg ’n uitdaging van Green verwag.

“Ons is tans in die proses om die Community Can Challenge as ’n niewinsgewende organisasie te registreer en daar is sprake dat mense ’n tak in Kaapstad wil open. As ons egter alles ingesamel het, sal ek dalk nóg verder in my tuin hardloop.”

  • Vir meer inligting oor die skenkings besoek die Community Can Challenge se Facebook-bladsy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.