Caster hardloop wêreld se vinnigste tyd nóg

Caster Semenya – wêreldbeste tyd in die 600 m (Foto: Google Olympics)

Caster Semenya het Sondag vir nog ʼn merkwaardige prestasie gesorg toe sy tydens die voorlaaste byeenkoms van die IAAF se Wêreld-uitdaagreeks in Berlyn ʼn wêreldbeste tyd in die 600 meter opgestel het.

Semenya, die enigste Suid-Afrikaanse deelnemer by die byeenkoms, het van die wegspring tot by die wenpaal voor gehardloop en ʼn tyd van 1:21.77 daargestel. Sy het daarmee die vorige beste tyd van 1:22.63, wat 26 jaar gelede in 1991 deur Ana Quirot opgestel is, met feitlik ʼn sekonde verbeter.

Semenya het ook byna vier sekondes vinniger as haar eie beste Suid-Afrikaanse tyd van 1:25.65 van meer as vyf jaar gelede gehardloop.

Sy was Sondag gemaklik voor die tweede geplaaste Ajee Wilson van die VSA (1:22.39).

Die negende en laaste byeenkoms van die Wêreld-uitdaagreeks vind Dinsdag in Zagreb in Kroasië plaas.

“Dit was ʼn wonderlike seisoen vol hoogtepunte vir ʼn toegewyde atleet en ons wens Caster geluk wat as lid van die huidige groep Suid-Afrikaanse atlete die nasionale vlag oor die hele wêreld laat wapper het.

“Ons is trots op haar, haar afrigter en die res van haar ondersteuningspan vir hulle goeie werk wat haar oor die laaste twee seisoene so help presteer het, insluitende by die Olimpiese Spele verlede jaar in Rio en by die onlangse IAAF Wêreldkampioenskappe,” sê Aleck Skhosana, die President van Atletiek Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.