Comrades gaan eers voort

Die Comrades-marathon. Foto: Facebook.

Die organiseerders van die Comrades-marathon het Maandagaand ’n dringende vergadering gehou oor die toekoms van die gewilde ultramarathon.

Te midde van die presidensiële maatreëls wat ingestel is rakende Covid-19, word alle byeenkomste van meer as 100 mense verbied. Atletiek Suid-Afrika (ASA) het ook in ’n verklaring gesê dat alle atletiekbyeenkomste vir ’n maand afgelas sal word. Dit sluit alle padwedlope in.

In ’n verklaring op hul webblad het die Comrades-organiseerders geskryf dat dit nog te vroeg is om die wedloop finaal uit te stel. Die Comrades word vanjaar op 14 Junie aangebied.

Hulle besef egter dat die situasie voortdurend verander en dat hulle die regering se leiding sal volg terwyl hulle nou saam met ASA en die provinsiale atletiekbeheerliggaam sal werk om met die beste oplossing vorendag te kom.

Die situasie sal daagliks gemonitor word en hulle sal weer op 17 April vergader om te bepaal of hulle die wedloop moet uitstel na ’n latere datum.

“Daar is nog byna drie maande vóór die wedloop wegspring en dit is nog te vroeg om die wedloop finaal uit te stel. Ons sal egter almal gereeld op hoogte hou.

“As organiseerders moet ons besluite neem wat in belang is van ons atlete, ondersteuners, toeskouers, helpers en die publiek,” het Cherlyn Winn, voorsitter van die Comrades-marathonvereniging, gesê.

“Ons moedig alle Comrades-deelnemers aan om met hul voorbereiding vir die 95ste weergawe van dié wedloop voort te gaan.”

Die minister van sport, Nathi Mthethwa, het egter gesê dat dit onverantwoordelik van die organiseerders is om so ’n verklaring uit te reik.

Die minister het op Twitter gesê dat geen sportbyeenkoms sonder regeringstoestemming mag voortgaan nie.

“ʼn Krisis heers tans in die land en hulle moet steeds die regering se toestemming kry,” het hy in die media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.