Comrades-marathon amptelik uitgestel

Die Comrades-marathon. Foto: Facebook.

Atletiek Suid-Afrika (ASA) het vandag bevestig dat vanjaar se Comrades-marathon nie in Junie sal plaasvind nie.

Dié gewilde ultramarathon tussen Durban en Pietermaritzburg sou op 14 Junie plaasgevind het.

Organiseerders het verlede maand, ten spyte van druk deur die regering en ASA, aangedui dat die wedloop nog soos beplan sou voortgaan en dat dié liggaam vandag ’n finale besluit oor die toekoms van vanjaar se wedloop sou neem.

“As organiseerders moet ons besluite neem wat in belang is van ons atlete, ondersteuners, toeskouers, helpers en die publiek. Ons moedig alle Comrades-deelnemers aan om met hul voorbereiding vir die 95ste weergawe van dié wedloop voort te gaan,” het Cherlyn Winn, voorsitter van die Comrades-marathonvereniging, verlede maand gesê.

Nietemin het ASA met die afsonderingstydperk wat tot 30 April in Suid-Afrika verleng is besluit om die wedloop af te las.

“In ooreenstemming hiermee word opskorting van alle atletiekaktiwiteite dus ook verleng en dit sal van toepassing bly totdat die nasionale regering beslis dat dit vir ons veilig is om voort te gaan,” het Aleck Skhosana, ASA-president, gesê.

Volgens Skhosana sal die Comrades-marathon na ’n meer geskikte datum geskuif word wat deur ASA, KwaZulu-Natal Atletiek en die Comrades-marathonvereniging bepaal sal word.

Op haar beurt het Winn haar by ASA se beslissing berus.

“Ons verwelkom Atletiek Suid-Afrika se aankondiging dat die Comrades-marathon ook afgelas is,” het sy gesê.

“Die vereniging voel dat niks belangriker is as die gesondheid, veiligheid en welstand van ons drawwers, vrywilligers, ondersteuners en die lewens van mede-Suid-Afrikaners is nie.”

Winn sê die raad van die Comrades-marathonvereniging is van mening dat die marathon egter nie later as 4 Oktober kan plaasvind nie weens klimaatstoestande. Sy sê verder die marathon sal gekanselleer moet word as dit nie voor dié datum kan plaasvind nie en dat dit die eerste keer sal wees wat die marathon gekanselleer word sedert die Tweede Wêreldoorlog. Die Comrades bestaan al 99 jaar.

Gerda Steyn, die Suid-Afrikaanse atleet, was verlede jaar die eerste vrou in Comrades-geskiedenis om die wedloop van Durban na Pietermaritzburg in minder as ses uur te voltooi.

Haar wentyd van 05:58:53 was amper tien minute vinniger as die vorige rekord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.